EDEN DISTRIK NUUS - Die finaal van die Wes-Kaapse interdistrikte skietkampioenskappe is by Yzerfontein aan die Weskus afgehandel.
Die kompetisie is oor drie bene beslis tussen die spanne van Eden, Westelike Provinsie en Boland.
Eden se mans, vroue en juniors het die laaste ronde oortuigend gewen om die reeks onoorwonne af te sluit. Die belegging in opleiding deur Eden-jaggeweerskiet in sy juniors en dames, in samewerking met Eden-sportraad, word bewys met hierdie puik resultate.
Hierdie reeks dien as sterk motivering en skep ook 'n goeie geleentheid vir skuts om amptelike erkenning te kry en hul harde werk en goeie voorbereiding word met provinsiale kleure beloon.
Aangesien daar slegs vyf plekke per span is, skep dit die geleentheid vir ander skuts om te groei in hul strewe om ook hierdie gesogte spanne te haal en Suid-Afrikaanse Jaggeweerskiet tot verdere hoogtes te laat groei.
Nege jaggeweerskuts uit Eden - sewe mans, een vrou en een junior - het die nasionale ranglys se top-50 gehaal en Eden-jaggeweerskiet wens hulle alle voorspoed toe vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Mpumalanga in 2018.
Eden-jaggeweerskiet se manspan met hul wentrofee. Van links: Renier van Greunen, Valie Enslin, Jaco Brink, Christo Delport, Jacques du Plooy en Conrad de Does (voorsitter: Westelike Provinsie).
Eden se junior skuts wat hulself goed van hul taak gekwyt het by die onlangse Wes-Kaapse interdistrikte skietkampioenskappe by Yzerfontein. Van links: Hans-Willem Moolman, Anlo Ferreira, Leras van Zyl, Manus Moolman, Emile Goedhals en Wim Joubert (voorsitter: Boland).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'