OUDTSHOORN NUUS - Altesaam vyf basketbalspanne van die Eden-distrik het Saterdag by Colridge Primêr op Oudtshoorn aan 'n vriendskaplike basketbaltoernooi deelgeneem.
Die spanne het Bridgton-basketklub (Oudtshoorn), Saints (Oudtshoorn), Benjamins (Oudtshoorn), Bongolethu Stars (Oudtshoorn) en Rim Dreams (Knysna) ingesluit.
Spanne van George, Mosselbaai en Dysselsdorp sou ook aan die toernooi deelgeneem het, maar het as gevolg van onvoorsiene redes nie opgedaag nie.
Volgens Ebenezer Titus, voorsitter van een van die plaaslike basketbalklubs (Bridgton-basketklub), het die toernooi in sy doelwit geslaag om hoë gehalte blootstelling aan dié spelers te verleen voordat die spanne op 22 Junie in Knysna aan die dorp se Oesterfees-basketbaltoernooi gaan deelneem.
Twee meisie-basketbalspanne (Bongolethu en Knysna), het ook deelgeneem tydens dié toernooi as deel van die Eden-basketbalfederasie se visie om dié sportsoort te diversifiseer.
Volgens Desmond Talmaggies (president van Eden-basketbalfederasie), is die federasie eers onlangs gestig, en is daar heelwat uitdagings wat hulle in die gesig staar.
"Een van ons groot dryfvere agter die stigting van dié federasie is om meer geleenthede aan talentvolle persone te bied wat vasgekluister is aan 'n rolstoel sodat hulle ook genot uit basketbal kan put ongeag hul gestremdhede.
"Ons beoog om voorts ook meer senior - en vrouespanne te betrek sodat hulle vaardighede geslyp en ontwikkeling kan word met die oog op nasionale en internasionale kleure."
Marlon Delport, speler van Bridgton-basketklub dribbel met die bal. Foto's: Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'