OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 12 fietsryers van Oudtshoorn het onlangs aan die Coronation Double Century op Swellendam deelgeneem. Die 202 km sirkelroete-wedren het op Swellendam begin en geëindig.
Die 300 spanne van twaalf lede elk het 30 sekondes uitmekaar weggespring met die doel om so vinnig as moontlik die afstand af te lê.
Volgens die reëls van die wedren moet ses van die ryers saam eindig vir 'n amptelike tyd. Die Oudtshoorn Dulux-fietsryspan het dit vir 'n vierde keer reggekry om met al 12 ryers saam te eindig om sodoende die Charles Milner-medalje in te palm.
Die Charles Milner word aan alle spanne toegeken wat as 'n volledige span die wedren voltooi.
Vanjaar was ook vir die twee veteraanfietsryers, Corné Bence en Izak Boshoff, 'n spesiale geleentheid omdat Bence dié fietswedren met sy twee seuns (Corné jr. en Rico) voltooi het, terwyl Izak dieselfde met sy seun Emile vermag het.
Die Dulux-fietsryspan het sewe uur en 28 minute gery met slegs een papwiel wat herstel moes word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'