OUDTSHOORN NUUS - Die inwyding van Laerskool van Reede se binnenshuise sportsentrum word deur die skoolhoof, Johnny Bisschoff, as 'n droom wat waar geword het, beskryf.
Die sportsentrum is Vrydag 11 Augustus ge-open
Die gebou is in 2010 opgerig om die leerders die geleentheid te gee om aktiwiteite soos ligaamsontwikkeling, minitennis, balvaardighede en trompoppies onderdak te beoefen.
"Sedertdien het daar 'n behoefte ontstaan om die saal vir 'n groter verskeidenheid aktiwiteite, onder andere, binnenshuise hokkie te gebruik.
"Navorsing en navrae het bewys dat internasionale spelers binnenshuise hokkie speel om hul vaardighede op te skerp. Die doel is dus om spelers die geleentheid te gee om van jongs af hul vaardighede te verbeter en ook gewoond te raak aan die vinniger spel.
"Daar word beplan om in die toekoms 'n binnenshuise hokkieliga tot stand te bring waaraan skolespanne van Oudtshoorn kan deelneem, het Bisschoff gesê.
Die Van Reede-trompoppies, wat gedurende SAMCA nasionale kampioenskappe aangewys is as die sewende beste laerskolespan in Suid-Afrika, het die aand se program afgeskop met 'n pom/non-propvertoning.
Hein Jonker, voorsitter van die beheerliggaam van Laerskool Van Reede, het daarna 'n kort toespraak gelewer. Hy het almal bedank wat betrokke was by die projek, asook die lede van die beheerliggaam vir hulle visie. Hy het benadruk dat die beheerliggaam verbind is daartoe om deurentyd beter fasiliteite en geleenthede daar te stel vir die Griffies van Laerskool van Reede.
Bisschoff, Annette Keulder (hokkie-organiseerder) en Tea Terblanche (afrigter) het onder luide toejuiging die baan geopen. Seuns- en meisiespanne van Laerskool Van Reede, Laerskool Hermanus en Beaumont van Somerset-Wes het op 'n rondomtaliebasis teen mekaar gespeel.
"Die spelers en toeskouers het dit terdeë geniet en dit was beslis die hoogtepunt van 'n sportnaweek waaraan die rugby-, netbal- en hokkiespanne van 12 skole deelgeneem het. Dit is duidelik dat hierdié sportsentrum in die toekoms vreugde en geleenthede aan baie leerders sal verskaf."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn Klein Karoo nuus'