EDEN DRIEKAMPNUUS - Altesaam ses van Eden-triathlon se driekampatlete is ingeskryf om hierdie naweek deel te neem aan die Isuzu Ironman 70.3 Wêreldkampioenskappe, wat in Port Elizabeth aangebied sal word.
In die vrouewedloop, wat op 1 September plaasvind, sal Eden verteenwoordig word deur Tina van Wyk, Mellusca Toovey, Eileen Ketterer en Chrissie Viljoen en in die manswedloop op 2 September deur JC Visser en Grant Lindeque.
Wat die geleentheid geskiedkundig maak is die feit dat dit die eerste keer sal wees dat 'n Ironman-wêreldkampioenskap op die Afrika-kontinent sal plaasvind.
Die byeenkoms is een van die hoogtepunte op die internasionale driekamp kalender met meer as 4 600 atlete vanuit meer as 90 lande wat vanjaar daaraan sal deelneem.
Die Ironman 70.3 staan ook bekend as die "half-ysterman" met die afstande van die verskillende dissiplines uit die helfte van die standard ysterman se afstande bestaan soos 1,9km-swem, 90km-fietsry en 21,1km-padloop. Die totale afstand kom neer op 113km of 70.3 myl. Die afsnytyd is 8 ure en 30 minute.
Die voorsitter van Eden-triathlon, Gerhard Liebenberg, het al die Eden-atlete sterkte toegewens vir die geleentheid.
"Mense besef nie altyd hoeveel en watter harde werk atlete moet insit om op daardie vlak te kan kompeteer nie," het hy gesê.
Vir Liebenberg het self 'n groot eer te beurt geval deurdat hy genooi is om by die geleentheid as tegniese beampte op te tree.
Vir verdere driekamp- en dubbelkampnuus, besoek Eden-triathlon se facebookblad of kontak Corné Hattingh (083 289 2544 of edentriathlon@gmail.com).
'We bring you the latest Garden Route, Karoo, Hessequa news'