Gallery
EDEN DISTRIK NUUS - Sport in die Eden-streek het 'n groot hupstoot gekry met die totstandkoming van die Eden-driekampfederasie, oftewel Eden Triathlon.
Dit beteken dat atlete nou Eden-kleure kan verwerf in driekamp en nie meer hoef deel te neem onder die Oos- of Wes-Kaapse vaandels nie. Verskeie plaaslike klubs en skole is reeds by Eden-driekamp geaffilieer.
Driekamp is 'n Olimpiese sport en een van die vinnigste groeiende sportsoorte ter wêreld met Suid-Afrikaanse atlete soos Richard Murray, Henri Schoeman, Marie Rabie en Gillian Sanders wat uitstekend op die wêreldverhoog vaar.
Die Eden-streek kan trots wees op atlete soos Mauritz Jansen van Rensburg,
JC Visser, Tim Toovey, Mellusca Toovey en Eileen Ketterer wat nasionaal én internasionaal uitstekend presteer.
Een van Eden-driekamp se doelwitte is om driekamp as sport in die streek te vestig en te ontwikkel - nie nét om senior atlete te akkommodeer nie, maar veral om die sport onder skoolkinders te ontwikkel.
Op Saterdag 13 Januarie het die eerste van twee oefenbyeenkomste by die Fairy Knowe-hotel in Wilderness plaasgevind. Die geleentheid is deur Eden-driekamp aangebied in samewerking met die voormalige Springbok-driekampatleet, Franna Vorster, van die Springtide Triathlon Academy.
Hierdie byeenkomste is gemik op álle atlete: vanaf ernstige senior atlete wat wil voorberei vir kompetisies soos die 'Ysterman,' tot beginners van so jonk as 5 jaar wat net vir die pret wil deelneem.
Die uitslae van die eerste oefenbyeenkoms was as volg:
Volwassenes (750 m-swem, 20 km-fietsry, 5 km-hardloop):
- Mans: 1. Mauritz Jansen van Rensburg (1h10min), 2. Rico Groenewald (1h12min), 3. Jaco Ekkerd (1h18min).
- Dames: 1. Sunette Liebenberg, 2. Sonja Steyn (1h24).
- 14-15 jaar (400 m-swem, 10 km-fietsry, 2,5 km-hardloop):
- Seuns: 1. Christiaan Hatting (36:51); 2. Christiaan Swanepoel (46:46).
- Dogters: 1. Linell Engelbrecht (42:10).
12-13 jaar (400 m-swem, 10 km-fietsry, 2,5 km-hardloop):
- Seuns: 1. Hanno Maritz (47:00).
- Dogters: 1. Carla Botha (58:55); 2. Emma Lutsch (53:53).
10-11 jaar (200 m-swem, 5 km-fietsry, 1,25 km-hardloop):
- Seuns: 1. Gerbrand van der Merwe (25:30), 2. Quintus Lutsch (26:13), 3. Hanno Liebenberg (31:26).
- Dogters: 1. Karli Lotter (29:45).
8-9 jaar (100 m-swem, 2 km-fietsry, 800 m-draf):
- Seuns: 1 Linwin (16:42); 2. Gideon du Plessis (17:15); 3. Adrian Cronje (18:16).
- Dogters: 1. Annabelle McEwan (15:42); 2. Simone Liebenberg (16:28); 3. Ané Vreken (16:55); 4. Janie Maritz (21:44).
6-7 jaar (50 m-swem, 1 km-fietsry, 500 m-hardloop):
- Seuns: 1. Almero van Niekerk (11:02); 2. Joshua van Zyl (13:34).
- Dogters: 1. Merike Groenewald (12:07).
5 jaar en jonger (25 m-swem, 500 m-fietsry, 250 m-hardloop):
- Seuns: 1. Cameron McEwan (12:39).
Die volgende byeenkoms sal plaasvind op die 10 Februarie - wéér by die Fairy Knowe-hotel in Wilderness. Uitslae van hierdie twee oefenbyeenkomste sal Eden-driekamp help om 'n Eden-span saam te stel wat die streek later vanjaar by die SA kampioenskappe kan verteenwoordig. Enigeen wat belangstel of wil deelneem kan vir Henriette van Niekerk bel by 082 822 6405 of per e-pos by edentriathlon@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'