OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse minister van kultuur-sake en sport, Anroux Marais, het Donderdag (13 Julie) fietse aan RJ Tours in Oudtshoorn oorhandig wat gaan help met erfenistoere in die dorp.
Hazel Jonker, bekende gesig in Oudtshoorn en in erfeniskringe, het gesê hierdie fietse sal daartoe bydra dat besoekers aan die dorp die geskiedenis van die dorp op 'n unieke manier sal kan verken.
"Ek het vir Roydin Engelbrecht van RJ Tours gementor en dit was juis hy wat my met die idee genader het. Ek het werk gemaak daarvan en vandaar het ons hierdie ses splinternuwe fietse gekry wat aan hom oorhandig is sodat hy kan voortgaan met die toere wat hy reeds 'n paar jaar lank aanbied," het sy gesê.
Volgens Jonker het vele plaaslike besighede buiten Marais, daartoe bygedra dat Engelbrecht die fietse kry.
Engelbrecht gaan die toere behartig en vir toeriste aan die dorp meer wys van Oudtshoorn se erfenis en geskiedenis.
"Dit is rerig 'n groot voorreg om die fietse te ontvang en dat daar so baie mense is wat deel is van die projek. Ek is baie dankbaar vir beide Hazel en minister Marais en die Queen's Hotel wat die fietse veilig gaan hou.
"Met die fietse en die erfenistoer wil ek 'n positiewe impak op toerisme in Oudtshoorn maak en bydra tot die toerisme-aantreklikheid van die dorp. Hierdie sal dan ook die eerste erfenis fietstoere vir die dorp wees. Ek is baie positief en optimisties oor wat voorlê.
"Verder gaan ons ook die fietse uitverhuur aan toeriste wat bloot net die dorp wil verken, per uur natuurlik," het Engelbrecht vertel.
Volgens Marais se woordvoerder het Marais uit haar eie besluit om betrokke te raak met die inisiatief en gereël om die fietse aan Engelbrecht te skenk.
Die eerste toere sal tydens die Klein Karoo Klassique plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’