OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Timbercity Cycle Challenge vind op 30 September vir die agtste jaar op Oudtshoorn plaas.
Met min padwedrenne wat in die Suid-Kaap aangebied word, is hierdie wedren die ideale geleentheid vir fietsryers om wegspringplekke in die Cape Town Cycle Our 2019 te bepaal. Die Timber City Cycle Tour is 'n amptelike seeding event vir die Cape Town Cycle Tour.
Volgens die organiseerders is die twee roetes dieselfde as verlede jaar met die kort roete van 57 km wat by die Kango-grotte draai en die 104 km roete wat by Matjiesrivier draai. Die lang roete is 'n pragtige roete onder die voet van die Swartberge. Dis 'n uitdagende roete, maar beslis die moeite werd as die natuurskoon in ag geneem word.
Onder die gesoute fietsryers wat reeds ingeskryf het is Anriëtte Schoeman, die vroue wenner van 2017, wat haar titel gaan verdedig.
Die begin en einde van die wedren is voor Brain's Grill in Baron van Reedestraat en begin Sondagoggend om 07:30. Gedurende die wedren sal Baron van Reedestraat vanaf St Johnsstraat tot by Noordstraat, op 30 September tussen 06:00 en 13:30 gedeeltelik gesluit wees. Die inkomende baan vanaf die grotte sal slegs vir fietsryers oop wees terwyl die uitgaande baan vir tweerigtingverkeer gebruik sal word.
Soos in die verlede sal mense by elke kruising geplaas word om verkeer uit dwarsstrate te reguleer en motoriste word by voorbaat gevra om geduldig en bedagsaam te wees.
Inskrywings is oop en kan aanlyn by www.cycleevents.co.za gedoen word.
Fietsryers kan ook Saterdagmiddag 29 September, en Sondagoggend voor die wedren inskryf en registreer. Verdere besonderhede oor die wedren is by www.edencycling.co.za beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'