DE RUST NUUS - De Rust Primêr se trompoppiespan het die afgelope naweek aan hul eerste kompetisie van die seisoen deelgeneem en het 'n derde en twee plek is twee onderskeie afdelings behaal.
Volgens Danica Titus, hoofafrigter van die span, het hulle aan die SWD Majorettes and Cheerleading Association se kompetisie deelgeneem.
"Ons was drie laerskole wat deelgeneem het. Ons het goed gevaar. Vir Pom-Pom/ Non-Prop het ons derde plek ontvang en vir Flag Group het ons tweede plek ontvang."
Titus sê vanjaar is haar span effe kleiner as gewoonlik, maar het hulle alles gegee tydens die kompetisie.
Die trompoppies is Jesamine Januarie, Sasha van der Ross, Kate-Lin Bakkies, Deinika Benn, Jacoqueline Kemoetoe, Glynisha Conradie, Akeejah Hossain, Waydene Konstabel, Elouise Willeman en Meredith Damons. Die kaptein van die Pom-Pom/Non-Prop Group is Jacoqueline Kemoetoe en vir die Flag Group is Jesamine Januarie.
Titus is 'n boorling van De Rust en het 'n absolute passie vir die sport.
"Ek het skoolgegaan by De Rust Primêr en in 2006 begin met trompoppies. Ek kon daarin slaag om die SWD-span te haal. Ek het in 2022 begin om die span af te rig en is ook bevoorreg om 'n onderwyser by my alma mater te wees."
Titus sê sy kry geweldig baie hulp van haar mede-afrigters Felicia du Toit, Nicole de Jonk en Shareeva Biljohn.
Du Toit het die span in 2006 gestig. Volgens haar wou sy graag meisies leer om gedissiplineerd te kan wees.
"Trompoppies verg dissipline om bereid te wees om elke Saterdag op te offer om te kan oefen. Dit help ook om hulle van die straat af te hou."
Dié span het oor die jare vele SWD-trompoppies gelewer, waarvan Titus die eerste een was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’