OUDTSHOORN NUUS - Dit sal haas onmoontlik wees om enige atletiek- of tweekampbyeenkoms te noem sonder om Dave van der Walt se naam te noem. Dave se betrokkenheid by sport en sportadministrasie het reeds met sy eerste aanstelling as onderwyser by Laerskool Milnerton in 1974 begin en dit loop vanjaar na 54 ononderbroke jare met sy uittrede ten einde.
Sedert sy aanstelling as onderwyser by Hoërskool Oudtshoorn in 1985 en lank verby sy aftrede in 2013 het Dave 'n CV van sportadministrasie opgebou wat bladsye beslaan. Alhoewel atletiek sy fokusarea was, het sy betrokkenheid ook gholf, rugby en skiet ingesluit.
Hy het op verskeie streek-, provinsiale en nasionale sportliggame as voorsitter gedien, en nie minder as 17 toekennings ontvang nie. Sy betrokkenheid was nie slegs beperk tot sportadministrasie nie, maar het ook posisies as afrigter, keurder en atletiekbeampte op provinsiale en nasionale vlak ingesluit.
Volgens Dave het hy in 1990 by tweekamp betrokke geraak toe dit op streekvlak beroerd gegaan het en hy gevra is om die administrasie daarvan oor te neem. As voorsitter van Eden-tweekamp het hy dit stelselmatig opgebou tot die vlak waar dit tans is. Hy het in 2017 as voorsitter bedank, maar was steeds aktief betrokke.
Die gewilde straatmyltreeks wat jaarliks deur Klein Karoo Atletiekfonds aangebied word, is ook een van Dave se vele sukses-verhale. So ook die gewilde jaarlikse sake-aflos wat vir groot pretdeelname sorg.
Dave het Dinsdag oor 'n koppie koffie met Oudtshoorn Courant gesels en gesê hy word vanjaar 75 en het besluit om dit rustiger te neem. Selfs ernstige mediese terugslae en operasies aan sy voete meer as drie jaar gelede het hom nie gestuit nie, maar nou is dit tyd vir briek aandraai sê hy. Getrou aan sy toewyding beteken dit natuurlik nie dat hy dadelik uittree nie.
"Daar is nog 'n hele tweekampseisoen wat afgehandel moet word en dan kom die grote van die jaar, die nasionale tweekampbyeenkoms, ook nog in Maart Oudtshoorn toe. So, daar is nog 'n klomp goed wat ek eers moet afhandel voordat ek finaal uittree," sê hy, en voeg byna dadelik by, "maar ek is nog altyd daar as iemand bietjie hulp of raad nodig het".
Hy verduidelik dat sportadministrasie nie sommer net 'n terloopse stokperdjie kan wees nie. "Om 'n tweekampbyeenkoms of 'n straatmylreeks te reël is nie iets wat oor 'n naweek gedoen kan word nie. Dit neem maande se laatnagte en die een is skaars klaar dan begin die beplanning van die volgende een. Ek wil nou bietjie rus."
Van der Walt is een van die gereelde en luidste stemme wat die groot waarde van sporttoerisme vir Oudtshoorn verkondig. Jaar na jaar gee hy bywoningsyfers van atletiek-, tweekamp en galabyeenkomste en dan doen hy die somme sodat mense kan besef watter geweldige voordeel dit vir Oudtshoorn inhou om byeenkomste van nasionale standaard aan te bied. Met sy uittrede is daar beslis 'n paar groot skoene wat vol gestaan moet word en alhoewel hy dit "rustiger" gaan neem gaan hy waarskynlik steeds sy deel doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’