OUDTSHOORN SPORTNUUS - Danovan le Roux het die afgelope naweek nog 'n wen in sy sakkie gesit toe hy aan die SA Sterkmankompetisie in Rustenburg, Noordwes, deelgeneem het en 'n eerste plek in die onder 90 kg-beginners-afdeling behaal het.
Volgens hom het die kompetisie uit ses items bestaan wat oor twee dae plaasgevind het.
"Saterdag het ek die Viking press 90 kg, deadlift 240 kg en die Medley waar ek vier voorwerpe van 80 kg tot 100 kg vir 15 meter dra voltooi. Ek het derde op die telbord gelê. Sondag het ek die circle walk 160 kg, die fatback farmers waar ek 110 kg aan elke kant vir 20 meter moet dra en die truck pull, waarvan die gewig onbekend was, gedoen."
Le Roux sê as die wenner van sy kategorie kan hy gaan deelneem aan die Afrika Sterkmankompetisie in Zambië wat in Oktober plaasvind.
"Ek sal ongelukkig weens finansies nie kan gaan deelneem nie. 50% van die koste vir die kompetisie word gedek, maar ek sal die ander 50% uit my sak moet betaal. Ek wil egter gebruik maak van hierdie geleentheid om dankie te sê vir die eienaars en bestuur van Barons Palace Hotel, Davel Vervoer en elke individu wat 'n donasie gegee het en dit vir my moontlik gemaak het om die SA Sterkman by te woon."
Hy sê verder dat hy Graham Prince Maritz van YsterGym wil bedank vir al sy ondersteuning, motivering en afrigting en ook dat hy hom met die toerusting vertrou. "Ek is trots om 'n sterkmanatleet van YsterGym te wees."
Le Roux voeg by dat hy uiters trots is op wat hy vermag het. "Ek het 'n laerugbesering opgedoen op die eerste dag van die kompetisie, maar ek het nooit opgegee nie. Met elke item wat ek voltooi het wou ek bewys dat ek dit net beter en beter kan doen."
Foto's: verskaf
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’