Video
OUDTSHOORN NUUS - Danovan le Roux, Oudtshoorn se eie sterkman, het onlangs aan die Suid-Kaap Sterkmankompetisie deelgeneem en 'n eerste plek in die onder 90 kg-kategorie, asook 'n eerste plek in die deadlift-kategorie gewen.
Hy het met sy prestasie na die Suid-Afrikaanse Sterkmankompetisie wat van 25 tot 27 Augustus in Rustenburg Noordwes plaasvind, deurgedring.
Le Roux is egter nie net 'n sterkman nie, hy is ook 'n kranige rugbyspeler, verbonde aan Collegians-rugbyspan en 'n sportassistent by Saturnus Primêr.
Volgens Le Roux is hy ongelooflik trots op wat hy bereik het en skryf hy sy prestasie aan toewyding en goeie ondersteuning toe.
"Ek het in 2021 aan die kompetisies begin deelneem en het by die Suid-Kaap Sterkmankompetisie tweede gekom en by die Afrika-kompetisie vierde."
Volgens hom het hy aan-vanklik vir die lekker en vir kop skoonmaak by Bridgton se gimnasium aangesluit, maar het toe later by die YsterGym in Hoogstraat aangesluit.
"Hier het Graham Prince Maritz my begin coach. Hy het die potensiaal in my raak- gesien en my gehelp om te kom waar ek vandag is." Le Roux sê hy spandeer gemiddeld vier ure per dag, vyf dae 'n week in die gimnasium.
"As ek minder as dit oefen voel dit vir my dat ek nie my beste gegee het nie."
Sy grootste kritikus, maar ook grootste ondersteuner is sy negejarige seun, Deranto.
"Hy spog vreeslik graag oor my prestasies, maar is baie vinnig om vir my te sê wanneer hy dink iemand anders is groter of sterker as ek, maar dit is sy manier om my te kry om harder te oefen. Hy weet net hoe. Ander mense wat tot my sukses bydra is my suster, Christy, JD Jackson en Niel Hendricks. Sonder hulle ondersteuning sou ek nie baie ver gekom het nie. As hulle weet ek kan nog daardie ekstra 20 kg bench press, moedig hulle my aan om dit te doen."
Maritz, eienaar van YsterGym, het gesê dat dit van die staanspoor af vir hom duidelik was dat Le Roux baie potensiaal gehad het.
"Ek het gekyk na die gewigte wat hy optel en sy liggaamsbou en geweet hy gaan 'n goeie sterkman wees. Ek het hom gevra of hy dit nie wil probeer nie. Hy is ongelooflik toegewyd en werk verskriklik hard om te kom waar hy is. Dit is absoluut sy prestasie. Ek is trots op hom vir wat hy vermag het."
VIDEO - Oudtshoorn se eie sterkman.
Danovan le Roux besig met sy oefeninge in die gimnasium. Foto: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’