OUDTSHOORN NUUS - Daar is waarskynlik min dinge wat meer bevredigend is as om jou brood en botter te verdien met iets waaroor jy passievol is.
Willem (Serfie) en Corné Serfontein van Cycle Addict is in hierdie gelukkige posisie en hulle passie is die hoofrede waarom hulle besigheid aanhou groei. Cycle Addict vier hierdie maand hulle eerste verjaarsdag in die groot perseel wat hulle verlede jaar by Klein Karoo Agri, langs Tyres and Treads betrek het.
Serfie vertel dat hy en Corné, beide kranige sportmense, kort na hulle troue in 2000 besluit het om onderskeidelik rugby en netbal te verruil vir 'n sport wat hulle saam kon geniet.
"Ons het vir ons bergfietse gekoop en sedert 2002 het ons nog nooit opgehou ry nie," sê hy.
En hoe het 'n liefde vir fietsry ontwikkel tot 'n toponderneming wat 'n wye reeks fietse, toebehore en professionele meganiese dienste insluit?
"Ek is meganies aangelê. So met die verloop van tyd het ek mense se fietse by my huis begin diens en vanaf 2009 het ek al besiger geraak en sommer gou was my garage té klein," verduidelik hy.
Hy het in 2012 besluit om die fietsbedryf sy voltydse beroep te maak en in 2013 sy onderneming, Cycle Addict, geregistreer, sy huis verander en voltyds met fietse begin werk. Baie gou het sy bestaande perseel egter té klein geraak en addisionele werksplek en uitstalruimte is by die huis ingerig. In 2016 het Serfie egter besef hy sal dringend 'n groter sakeperseel moet kry en toe die perseel by Klein Karoo Agri beskikbaar raak, het hy die geleentheid gegryp.
Cycle Addict het op 2 Januarie 2017 in die nuwe perseel oopgemaak en twee maande later het Serfie se vrou, Corné, haar werk by 'n mediese praktyk opgesê en voltyds by die onderneming aangesluit.
Groot verskeidenheid
Wanneer mens by Cycle Addict instap is dit onmiddellik duidelik dat die eienaars ernstig is oor hulle rol as verskaffer en werkswinkel. Die verkoopsarea van die winkel is propvol voorraad. Hier kan in die behoeftes voorsien word van die koper wat 'n beperkte begroting het en net 'n basiese fiets soek, tot die professionele ryer wat derduisende rande op die beste fiets en onderdele wil spandeer.
"Ek dink een van die redes vir ons sukses is dat ons nie net fietse aan mense wil afsmeer nie, maar eers kyk presies wat hulle behoefte en begroting is," sê Corné.
Serfie beaam dit en noem dat hy al dikwels vir kopers fietse opgebou het om presies by hulle behoeftes te pas. "Ek ry self kompeterend fiets en ek weet dat jou fiets presies by jou moet pas."
Alhoewel daar 'n groot verskeidenheid fietse is om van te kies is Cycle Addict 'n trotse verskaffer van die gewilde Momsen fietsreeks wat in Suid-Afrika vervaardig word en daar is pas ook 'n ooreenkoms gesluit om Silver Back-fietse te verkoop. Buiten fietse het Cycle Addict ook 'n wye verskeidenheid toebehore vanaf fietsonderdele en elektroniese toerusting tot fietsryklere.
Puik werkswinkeldiens
Met jare se ondervinding van fietse diens is Serfie self in beheer van die werkswinkel en werk hy daagliks aan kliënte se fietse. Hy word bygestaan deur nog 'n bedrewe tegnikus, Jerome Slabbert, hulptegnikus, Steven Witbooi en 'n assistent, Michael Cornelius.
Met die bystand van hierdie drie en die vriendelike diens wat Serfie en Corné bied is dit heeltemal te verstane dat besoekers van selfs die buiteland Cycle Addict besoek as hulle in Oudtshoorn kom fietsry.
Cycle Addict is Maandae tot Vrydae vanaf 07:30 tot 17:30 en Saterdae vanaf 09:00 tot 13:00 oop. Serfie noem dat hy ook na-ure beskikbaar is vir noodgevalle.
Skakel die Cycle Addict span by 084 527 9622 (Corné) en 082 977 5288 (Serfie) of ontmoet hulle persoonlik by die winkel op die terrein van Klein Karoo Agri langs Tyres and Treads.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'