OUDTSHOORN SPORTNUUS - Chaunique Bruce verbonde aan Ranger-skopboksklub in Oudtshoorn, het die naweek van 18 en 21 Mei aan die Turkey Ope Wêreldbeker in Istanbul deelgeneem waar sy 'n goue medalje verower het.
Bruce was deel van South African Kickboxing Association (SAKA) se ses skopboksers wat aan die toernooi deelgeneem het.
Vanjaar het altesaam 3 700 skopboksers vanuit 47 verskillende lande meegeding.
Volgens Bruce het sy vir die eerste keer in 2003 as sewejarige die sport opgeneem.
"My ma het my aan die begin aangemoedig om die sportsoort te probeer. Dis toe dat ek uitvind dat ek nogal 'n natuurlike talent vir skopboks het en vandaar het die gogga my behoorlik gebyt. In 2007 het ek ernstig begin deelneem aan kompetisies en dit was nie lank daarna voordat ek my eerste goue medalje gewen het nie. Oor die jare het ek ook gereeld goud by die Suid-Afrikaanse Skopbokskampioenskappe gewen."
Bruce sê dat sy in 2017 by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit het en toe skopboks tydelik laat vaar het.
"In daardie stadium was ek in 'n plek ontplooi wat nie sulke geriewe in plek gehad het nie. Om myself fiks te hou, het ek op my eie boksoefeninge en hier en daar taekwondo gedoen. Tans is ek 'n instrukteur by die Infanterieskool in Oudtshoorn en verlede jaar, het ek ook by die plaaslike Ranger-skopboksklub aangesluit. Dit was 'n fantastiese besluit omdat ek so baie leer en leiding hier kry- ook op 'n geestelike vlak," sê Bruce.
Op 'n vraag wat haar toekomsplanne is het Bruce gesê dat sy daarvan droom om eendag haar eie skopboksklub oop te maak en die jonges van kleins af tou wys te maak wat dit verg om dié sportsoort op 'n hoë vlak te beoefen.
Volgens Ranger Grebe, eienaar en instrukteur van Ranger-skopboksklub, is hy ontsettend trots op Bruce se prestasie. "Sy was 'n trotse ambassadeur vir haar land en haar dorp, Oudtshoorn."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’