OUDTSHOORN SPORTNUUS - Bridgton-basketbalklub het die afgelope naweek in Dysselsdorp by die Score-sportkompleks sy status as een van die topspanne in die Tuinroete herbevestig toe hy die Eden-basketbaltoernooi onoorwonne afgesluit het.
Die toernooi het 11:00 begin met spanne van Bongolethu, Dysselsdorp en George wat deelgeneem het met slegs Knysna wat weens logistieke uitdagings nie gespeel het nie.
Bridgton het George in sy eerste wedstryd gemaklik met 36-15 gewen. George het in die eerste helfte goeie rekenskap van homself gegee, maar kon in die tweede helfte nie die pas volhou nie. Bridgton se doelpogings en balretensie was daarinteen meer akkuraat soos die wedstryd gevorder het. Bridgton het sy daaropvolgende wedstryde teen Dysselsdorp Daizy Action-basketbalklub (24-9) en Bongolethu-asketbalklub (12-8) oortuigend gewen. Die organiseerder van die toernooi, Monique Lewie, het die spanne na die wedstryd bedank vir die goeie sportmangees waarin die wedstryde gespeel is. Die besoekende spanne het ook na die tyd 'n heerlike middagete geniet wat deur die Dysselsdorp Daizy-basketbalklub verskaf is.
Surge Adams van George-basketbalklub (maroen) ontwyk twee verdedigers.
Uitslae:
- Bongolethu junior-basketbalspan klop Daizy Action junior- basketbalspan 10-6
- George klop Daizy Action 22-10
- George klop Bongolethu 14-13
- Bongolethu klop Daizy 21-18.
Sibulee Tyatya van Bongulethu dribbel met die bal.
Jose Korkee (oranje) van Dysselsdorp Daizy Action-basketbalklub beskerm die bal van sy opponent.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'