OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het 'n Oudtshoorniet, Corné Bence, verlede week te beurt geval toe hy as die nuwe sameroeper van Fietsry SA aangestel is. Bence is jare lank reeds 'n groot gees in fietsrykringe en het die afgelope 10 jaar verskeie hoë poste in fietsry beklee. Hy was vir agt jaar ook die nasionale spanbestuurder en keurder van Fietsry SA, en is ook 'n gekwalifiseerde Vlak 2 (UCI) nasionale fietsry-afrigter.
Tans dien hy op die uitvoerende raad van Eden- en Fietsry SA.
Volgens Bence voel hy geëerd om in dié topposisie verkies te word omdat al nege provinsies in die land hom eenparig genomineer het vir die posisie. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van Fietsry SA dat 'n voormalige pad- en baankeurder op die raad se komitee dien.
"Ek is al bykans 31 jaar by fietsry op nasionale en internasionale vlak betrokke en my begeerte was nog altyd van dag een af om eerstens plaaslike rou talent te identifiseer, en dan verder te ontwikkel na 'n hoër vlak wat internasionale en nasionale blootstelling insluit. "My nommer een leuse is dat fietsry 'n voorbeeld is vir ander sportkodes in terme van kameraderie en eenheid moet wees."
"Vir hierdie rede kan alle fietsryers verseker wees dat ek altyd seker sal maak dat die regte keuse gemaak word sodat niemand benadeel word nie."
Krediet moet veral ook gaan aan my kollegas in die fietsrywêreld wie se ondersteuning vir my van onskatbare waarde is, het hy gesê.
Plaaslike fietsryers, wat al groot hoogtes onder Bence se wakende oog bereik het sluit Phillo Verlaat (potensiële paralimpiese fietsryer), Clarissa Shultz ( SA junior meisies), Shanique Loggenberg (voormalige Afrika-kampioen), Jessic Gerber (voormalige Afrika-kampioen), Louis Visser (SA en internasionale Dimentia Data-fietsryspan) en die gr.12 leerder Benino Hans (SA talentspan) in.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'