OUDTSHOORN NUUS - Skopboksaanhangers en -ondersteuners kon hulself Saterdag 27 Junie verlustig in die aksie wat in vier kryte by die De Jager-sportkompleks plaasgevind het.
Agt skopboksklubs van die Tuinroete-distrik het Saterdag aan die Eden-skopboks-kampioenskappe in Oudtshoorn deelgeneem.
Dit is die eerste keer dat dié toernooi hier aangebied is. Dit word jaarliks in George aangebied, maar vanjaar is dit as deel van die Oudtshoorn-sportfees deur Eden-skopboks en 'n Oudtshoorn-skopboksklub, Grebe's-skopboksklub, in Oudtshoorn aangebied.
Eenhonderd-vyf-en-dertig deelnemers van verskillende ouderdomme het aan die kampioenskap deelgeneem.
Van hulle was slegs vyf jaar oud. Na raming het meer as 400 toeskouers die kampioenskappe bygewoon om die deelnemers te ondersteun.
Die wenners van die Eden-kampioen-skappe kwalifiseer om in die Eden-span opgeneem te word, wat op 10 Oktober in Kaapstad aan die Wes-Kaap-skopboks-kampioenskappe gaan deelneem.
Grebe's-skopboksklub het 46 deelnemers ingeskryf, en tussen hulle het hulle 72 medaljes ingepalm - 30 goud, 22 silwer en 20 brons.
Vanjaar se toernooi is moontlik gemaak deur borgskappe en ondersteuning van die Oudtshoorn-munisipaliteit se Sportfees, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport en die Eden-sportraad se Legacy Funding.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’