Gallery
OUDTSHOORN NUUS -Die 15de jaarlikse Battle of the Karoo-skopbokstoernooi is op 7 Maart met groot sukses in Oudtshoorn deur Grebe's-skopboksklub aangebied.
In gesprek met Grebe noem hy dat die toernooi hierdie jaar 'n ekstra afdeling ingesluit.
"Daar was 'n opwindende Tatami Fight Night - Rise of the Champion, waar 'n uitgesoekte groep vegters die aand in aksie was. Die Battle of the Karoo is 'n sterk platform wat geskep is om skopboksers van alle vlakke die geleentheid te gee om aan 'n opwindende kompetisie deel te neem. Hierdie toernooi bied deelnemers die geleentheid om hul talent te wys en waardevolle ervaring op te doen in 'n ondersteunende en professionele omgewing."
Grebe's-skopboksklub het 55 deelnemers ingeskryf en uitstekende resultate behaal waaronder 28 goud, 32 silwer en 12 brons.
By die Tatami Fight Night - Rise of the Champion het Grebe's-skopboksklub ook sterk presteer en weggestap met ses goud en vyf silwermedaljes.
Die span maak nou gereed vir die SA's wat van 24 tot 28 April in Oudtshoorn plaasvind.
"Die sukses van hierdie toernooi sou nie moontlik gewees het sonder die vrygewige ondersteuning van verskeie borge nie. Ons wil ons opregte dank uitspreek aan al die borge wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het. Julle ondersteuning is van groot waarde en help om die liefde vir skopboks in ons gemeenskap te bevorder en te laat groei. Elke jaar groei die Battle of the Karoo in gewildheid, en dit is duidelik dat dit 'n belangrike gebeurtenis op die skopbokskalender geword het. Ons hoop om nog meer atlete in die toekoms aan te moedig om aan hierdie opwindende sport deel te neem. Verder sien ons reeds uit na die 16e Battle of the Karoo aanstaande jaar wat beslis nog meer opwinding, oorwinnings en nuwe kampioene gaan oplewer," noem Grebe.
Deelnemers van regoor die land
Verskeie klubs het ook deelgeneem wat insluit:
Wes-Kaap: Grebe's-skopboksklub, MF George, Divinus George, SKA Plettenbergbaai, ASKK Knysna en Stillbaai-skopboksklub.
Oos-Kaap: Botha's J-Bay, Madibabay Kickboxing en Strydom's OP.
Kaapstad: Elite MMA Kickboxing en Wings of Glory.
Hierdie diverse deelname het bygedra tot 'n opwindende en mededingende toernooi, waar elke klub sy beste vegters gestuur het om teen mekaar te kompeteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’