OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Adias van Volmoed het die naweek 'n wegholoorwinning van 56-17 oor Oudtshoorn-rugbyklub in 'n SWD premierliga wedstryd op die Bridgton-sportterrein behaal.
Hierdie oortuigende bonuspunt-oorwinning kom kort op die hakke van verlede week se deurbraak-oorwinning oor Harlequins (15-7). Hierdie oorwinning is slegs die span se derde uit 12 wedstryde dié seisoen.
Adias, wat vanjaar sy debuut maak, tesame met Oudtshoorn-rugbyklub, is tans die agterosse in dié liga. Adias kan egter rustiger slaap met die wete dat twee oorwinnings van sy laaste drie wedstryde genoeg sal wees om sy status as Presidentsliga span volgende jaar te verseker.
Menige ondersteuner van Adias het Saterdag van pure plesier gebrul oor hul span wat uiteindelik dié seisoen tot sy volle potensiaal speel. Adias-ondersteuners se gunsteling liedjie, Hou by die blou, is deurentyd passievol uit volle bors vanuit die stadion gesing.
Die manne in blou het in dié wedstryd 'n allemintige agt drieë ingeryg, waarvan hul opwindende jong losskakel, Bradley Arries, 'n driekuns behaal het. 'n Blink toekoms wag beslis vir die vlugvoetige Arries (20) wat verlede jaar nog 'n matriekleerder by Bridgton Senior Sekondêr was.
Adias wat die eerste helfte met 18-3 afgesluit het, het in die tweede helfte die krane behoorlik oopgedraai namate die spel los getorring het.
Dit was opwindende sjampanje-rugby op sy beste met albei spanne wat van letterlik enige posisie op veld teenaanvalle geloods het. Oudtshoorn-rugbyklub se kannie-dood houding moet ook geprys word met die volstruise wat enduit geveg het. Hulle was welverdiend met twee drieë in die tweede helfte beloon. Ivan Delport, afrigter van Adias, was na die wedstryd vol lof vir sy span. "Hierdie vertoning deur die spelers is nie juis 'n verrassing vir my nie omdat die ouens al 'n geruime tyd dreig om skitterende spel te lewer.
"Vandag was dit bloot 'n geval dat al ons geoefende bewegings tot op die letter uitgevoer het. Om ons getroue ondersteuners soveel vreugde te verskaf deur middel van ons spel is ons grootste motivering," het hy gesê. Delport het egter sy spelers gemaan om nie laks te raak nie omdat hul deelname in volgende jaar se liga nog nie verseker is nie.
"Ons wil ons graag teen die beste meet en ons volgende wedstryd teen All Blacks op 16 Augustus (Bridgton-sportterrein) gaan beslis 'n grote wees."
All Blacks is tans die pasaangeër in die Karoo-streekliga en beklee ook die algehele tweede posisie op die SWD Presidentsliga punteleer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'