OUDTSHOORN NUUS - Die 16de Oudtshoorn-sportfees is Donderdagaand, 28 Mei, tydens 'n spesiale funksie by Route 62 amptelik aan rolspelers bekendgestel.
Jean Neethling van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport het tydens die geleentheid 'n tjek van R100 000 aan die Oudtshoorn-munisipaliteit oorhandig ter ondersteuning van die fees wat van 12 Junie tot 1 Augustus plaasvind.
Die sportfees vorm deel van die munisipaliteit se voortgesette pogings om sportontwikkeling, gemeenskap-samehorigheid en plaaslike ekonomiese groei te bevorder.
Oudtshoorn-burgemeester, Zoe Mziwoxolo Tyatya, het in sy toespraak gesê die sportfees lewer 'n beduidende ekonomiese en toerisme-inspuiting vir Oudtshoorn.
"Ons is trots om al die klubs, afrigters, atlete en toeskouers by die fees te verwelkom. Sport bou verhoudings, bevorder 'n gesonde leefstyl en moedig goeie sportmanskap aan," het hy gesê.
Tyatya het beklemtoon dat die sportfees een van die hoogtepunte op Oudtshoorn se sportkalender is. 'n Verskeidenheid sportkodes sal vanjaar deel vorm van die fees, waaronder rugby, veerpyltjies, skopboks, domino's, sokker, motorwedrenne, basketbal, fietsry en rolbal.
Sportfeesprogram
- 12 - 13 Junie
Suidelike provinsies-rugbytoernooi en o. 13 Cravenweek by Langenhoven Gimnasium
- 20 Junie
Oudtshoorn-veerpyltjies se provinsiale kompetisie by die Oudtshoorn-skouterrein.
- 27 Junie
Eden-skopbokskampioenskappe by die De Jager-sportkompleks.
- 27 Junie
Domino's-kompetisie by die Thusong-sentrum.
- 4 Julie
OLFA o. 17-sokkertoernooi in Dysselsdorp.
- 11 Julie
Nasionale RGR Klein-Karoo-ovaalbaan-kampioenskappe by die Arnold de Jager-ovaalbaan buite Oudtshoorn.
- 11 - 12 Julie
Distriksbasketbal by die Bridgton-basket-balbane.
- 15 - 17 Julie
SA nasionale jeugfietsrykampioenskappe in Oudtshoorn.
- 31 Julie - 1 Augustus
Interprovinasiale rolbalkamipoenskappe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’