MOSSELBAAI NUUS - Die gewilde Eden Straatmyl-reeks vind vanjaar weer plaas. Die reeks skop af op 16 Desember op Oudtshoorn met die Klein Karoo Straatmyl, wat in Baron van Reedestraat beslis word. Dit word afgesluit op 18 Desember op Hartenbos met die ATKV Straatmyl. Die Swartberg baanmyl vind egter nie die jaar plaas nie.
Meer as R40 000 se prysgeld is op die spel met verskeie borge wat die wedlope moontlik maak in samewerking met die onderskeie munisipaliteite, beamptes en vrywilligers.
Hupstoot
Die status van straatmyle binne die internasionale sfeer, het geweldige hupstoot gekry van Wêreldatletiek, die Internasionale Atletiek Federasie (IAF), wat dit op sy padkampioenskappe program bygevoeg het. Dit is vanjaar vir die eerste keer in Letland aangebied. Die rekordhouers van die Eden Straatmyl-reeks, Ryan Mphahlele en Carina Viljoen, was ook deel van dié geleentheid in Riga, Letland.
Die Eden Straatmyl-reeks bied nou ook aan atlete die geleentheid om keurders van Atletiek Suid-Afrika (ASA) te beïndruk vir insluiting in SA-spanne.
Die Klein Karoo Atletiekfonds doen ook baie op die ontwikkelingsfront en beginnersatlete word aangemoedig om ook deel te neem. Atlete kan in vyf ouderdomskategorieë in die Eden Straatmyl-reeks meeding. Jong Talent gebore 2009 tot 2014, Jeug gebore 2006 tot 2008, Junior gebore 2004 tot 2005, Ope en 40+.
Daar is ook ‘n prys vir die beste Atletiek Suid-Westelike Distrikte (ASWD) se mans- en vroue-atlete. ‘n Potjiekos-ete wat ‘n kenmekaar insluit, word oudergewoonte by Kleinplaas op 16 Desember aangebied.
Meer inligting met betrekking tot die wedlope en inskrywingsvorms is op www.edenmiles.co.za en op Facebook beskikbaar.