Update
OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Oudtshoorn Spar-gholfdag het Saterdag 'n allemintige 220 spelers na die Oudtshoorn-gholfbaan gelok wat in die 4BBB-Scramble Drive-formaat beslis is.
Dié gewilde gholfdag, wat as een van die grootstes in die provinsie beskou word, het vanjaar vir die eerste keer ook met twee pawiljoene op die 12de bof gespog.
Groot pryse was op die spel vir die wenners asook verskeie gelukstrekkings waarin deelnemers pryse ontvang het.
Gideon Badenhorst het namens Oudtshoorn Spar 'n veiling van verskillende items behartig tot groot vermaak van die gehoor.
Soos verlede jaar was die groot trekpleisters van die dag beslis die twee motors (Polo Vivo en Hyundai i20 ) en R100 000 kontant wat op die spel was vir volmaakte kolhoue op onderskeidelik die 12de, agste en derde putjie. Ongelukkig kon geen speler dit op die dag inpalm nie.
Skillie Pretorius, eienaar van Oudtshoorn Spar, het tydens die prysuitdeling die spelers bedank vir die groot opkoms en 'n versoek aan almal teenwoordig gerig om plaaslike besighede te ondersteun sodat die dorp ekonomiese vooruitgang kan geniet.
"Selfs al merk die publiek op dat ander supermarkte 'n produk vir 20 sent goedkoper as Spar aanbied, moet hulle ons in elk geval ondersteun," het Pretorius geskerts. Pretorius het ook al die borge van die dag bedank en ook die klub se nuwe klubkaptein, Jurie Neethling, en bestuur geluk gewens met hul nuwe rolle en sy wens uitgespreek dat hulle die klub tot hoër hoogtes moet dryf.
Neethling het op sy beurt gesê dat Oudtshoorn Spar-gholfdag die hoogtepunt op die plaaslike gholfkalender is en bevestig dat alle fondse wat op die dag ingesamel word ten bate van die gholfklub is.
"Ons is baie dankbaar teenoor Oudtshoorn Spar vir die groot finansiële inspuiting wat hierdie gholfdag jaarliks vir die klub genereer.
"Ook 'n woord van waardering vir ons baanpersoneel vir die puik toestand van die gholfbaan."
Regs is Chris Groenewald en sy kleinseun, Andreas Gouws, kort nadat hulle elkeen 'n splinternuwe gholfsalk tydens een van vele gelukstrekkings gewen het.
Wenners:
- Gerrit Khun en Marius de Bruyn (55 punte)
- Stephen Raubenheimer en Andries van Schalkwyk (55punte)
- Daniël Boks en Clement Rex (55 punte)
Naaste aan die pen:
- Warren Human
- Terrence Wewers
- J. Stoneman
- K. Cripps
Langste dryf vir vroue
- Anneline Badenhorst
- Chloë Malgas-Kelpin
Langste dryf vir mans
- William Phillipus
- I. Williams
Jissie, ek het hierdie bal lekker getref!
Vorige artikel: Gholfdag lok 220 spelers
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'