OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Terrence Smith het Saterdag by die Oudtshoorn-gholfbaan die nuut gestigte sportorganisasie op die dorp, Saints Unlimited, se eerste Medal-gholfdag met 'n telling van 66 gewen.
In die proses het Smith ook die draer van die organisasie se eerste Meesters Blue Jacket geword.
Hierdie baadjie, wat geborg is deur Leadermans, sal voortaan ook jaarliks op die spel wees tydens gholfdae wat die Saints aanbied.
Spelers wat hierdie gesogte baadjie wen neem ook eienaarskap van dit. Inskrywingsfooie vir die dag het R150 per speler beloop met die wenner (Smith) wat met 'n halwe lam (geborg deur Overland Butchery) weggestap het.
Warren Human was die naaswenner met 67 punte terwyl Marthinus Oosthuizen met 69 punte in die derde plek geëindig het. Louis Fourie het op die 18de putjie die naaste aan die pen geslaan.
Volgens Reginald Anthony, president van Saints Unlimited, getuig die 57 spelers wat op die dag afgeslaan het van 'n redelike suksesvolle toernooi wat sy sportorganisasie aangebied het.
Saints Unlimited bestaan tans uit vier lede nl. Reginald Anthony (president), PG Mooney (bedryfsbeampte), Steve Lourens (funksies) en Leigh Konstabel (admin).
Die sportorganisasie is in Februarie vanjaar gestig en beoog om sportsoorte wat nie normaalweg deur Jan Alleman beoefen word nie meer blootstelling te gee. Hierdie sportsoorte sluit tafeltennis, basketbal en krieket in. Sportklinieke in hierdie onderskeie sportkodes sal ook voortaan deur dié bestuur aangebied word. Die Saints het ook al reeds sedert hul ontstaan by verskeie skole op Oudtshoorn inligtingsessies gehou.
Van links is Paul Stroebel (klubkaptein), Reginald Anthony (Saints Unlimited), Terrence Smith (wenner), PG Mooney ( Saints Unlimited), Steve Lourens (Saints Unlimted) en Leigh Konstabel (Saints Unlimited). Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'