OUDTSHOORN NUUS - Sergio Arries, jong begaafde gholfspeler van Oudtshoorn, het verlede week vir die tweede agtereenvolgende jaar die Oudtshoorn-gholfklubkampioenskap ingepalm.
Die borge van die dag was Oudtshoorn Spar, Riempie Hotel en Golfers Klub.
Sergio se loopbaan het al heelwat hoogtepunte bereik en was hy ondermeer al opgeneem in die o. 18 Suid-Kaap provinsiale span sowel as die Suid-Kaap-gholfontwikkelingspan. Op daardie stadium die topspeler van die Suid-Kaap.
Arries in in 2023 by burgemeester se sporttoekenningsaand vereer as die Junior sportman van die jaar en in 2022 is ook deur die munisipaliteit met splinternuwe gholfstokke geborg.
In 2022 was hy die wenner van die Mosselbaai en Riversdal Junior Gholf Ope as eersteling sowel as die naaswenner in die Oudtshoorn-klubkampioenskappe. Hy is ook al gekies om Suid-Kaap in die SA interprovinsiale toernooi in Mbombela te verteenwoordig en het ook al 'n nuwe baanrekord van 65 by die Ladismith-gholfbaan opgestel.
Luidens 'n verklaring van die Oudtshoorn-munisipaliteit is Arries se suksesstorie iets wat jong atlete na kan strewe.
"Arries se passie is 'n bewys van sy talent en deursettingsvermoë. Vanaf 'n nederige begin in die Hopeville - informele nedersetting, het Sergio Arries deurgaans verwagtinge trotseer, oorwinnings behaal en rekords langs die pad opgestel. Arries se sukses is 'n weerspieëling van sy passie, die ondersteuning van sy gemeenskap en die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit."
Arries se ouers, Jacobus en Sarah Arries, het gesê dat hulle baie trots op hul seun se prestasies is.
"Gholf is van jongs af al 'n sport waarin hy uitblink en ons is dankbaar vir die Vader vir sy talent. Op die oomblik balanseer hy sy matriekstudies tussendeur sy gholf. Hy is nog jonk en kan nog groot dinge in die gholfwêreld bereik, het sy pa gesê.
Die volledige uitslae van die Oudtshoorn-gholfklkubkampioenskappe is:
- Andè Beets - tweede plek
- Ronel Huysamen - vrouekampioen,
- Ockie Horowitz - juniorkampioen,
- Bobby Lock Colbourne - skolekampioen,
- Rune Steyl - skoliere netto-kampioen
- Choy Stander - algehele netto wenner
- André Theron - senior netto kampioen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’