GHOLFNUUS - Mosselbaai se mooi gholfbaan het weereens op Woensdag, 10 Augustus plesier aan 'n groot aantal spelers verskaf.
Rouxwy van Wyk het die spreekwoordelike flash in the pan beleef.
Hy het die individuele Stablefordkompetisie totaal oorheers deur 'n ongelooflike 48 punte aan te teken. Sy bruto-telling was 78 houe vanaf 'n 18 voorgee. Welgedaan Rouxwy!
Dave Steward wat in September sy 80ste verjaarsdag vier, het self skitterend gespeel en was 'n gewilde naaswenner op 43 punte. Oosie Oosthuizen se 42 punte was ook nie te versmaai nie, want die derde plek was hom beskore. Op 41 punte het Ashwell Cameron en Michael Kriel onderskeidelik vierde en vyfde geëindig.
Geesdrif bruis
Saterdag, 13 Augustus het 'n heerlike dag die entoesiastiese gholfers begroet. Die vierbal-alliansiekompetisie het die geesdrif laat bruis. Spanwerk was noodsaaklik en hier het die span van JJ Joubert, bestaande uit Johan van den Berg, Etienne van Zyl en Wynand Liebenberg, hulle uitstekend van hulle taak gekwyt.
Hulle 96 punte het die naaswenners, Armin Kade, Malcolm Hyman, André Middel en Danie van Langelaar, 87 punte, ver agter gelaat. Die derde plek op 86 punte het aan Arno von Mansberg, Ezra Rheeder, Francois de Lange en Gerhard Vorster behoort.
Winter-uitkloptoernooi
Intussen vorder die Winter-uitkloptoernooi fluks. Dawid Gerber en Gabriël Smith het die hoogaangeskrewe Eugene Duthie en Adin van Aswegen verras en deurgedring na die volgende ronde. Anton Steenkamp en Ferdie Jonck was ook nie opgewasse teen die sterk aanslag van Chris Brits en Cecil Gericke nie.
Die verdere verloop van die toernooi beloof om op 'n opwindende eindstryd af te stuur.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'