OUDTSHOORN NUUS - Die ervare gholfspeler Clement Rex, was die afgelope Saterdag wéér aan die wenkant toe hy die Oudtshoorn-gholfklub se individuele Stableford-gholftoernooi met 'n telling van 41 punte gewen het. Dit was Rex se vierde oorwinning in alle toernooie vir 2019 wat die houespel (2), vleis (1), en Stableford (1) ingesluit het.
Hy is ook tans die verdedigende vleiskampioen nadat hy die titel in 2018 ingepalm het en is tot dusver ook die voorloper op die vleistoernooi se algehele punteleer vir 2019. Volgens Rex was Saterdag se oorwinning vir hom ekstra spesiaal omdat sy seun op dié dag ver-jaar het. Rudie Mortlock was in die tweede plek met 38 punte gevolg deur Pieter Pretorius wat in die derde plek geëindig het.
Rex het ook daarin geslaag om op die 8ste putjie 'n spogtwee aan te teken. Celeste Barnard (3de) en Okkie Horowitz (12de) was die enigste ander gholfspelers wat daarin kon slaag om spogtwees te behaal.
Okkie Horowitz het ook op die 12de putjie die naaste aan die pen geslaan, terwyl Christo van Zyl met 13 punte die boerpot gewen het.
Op 'n vraag van die Oudtshoorn Courant waaraan hy sy huidige witwarm vorm kan toeskryf, het hy gesê dat vorm kom en gaan, maar dat klas permanent is.
"Dit kos egter harde werk om goeie vorm te handhaaf, en juis daarom moet 'n ou waak daarteen om nie te selfvoldaan te raak nie omdat 'n periode van swak peil net om die draai lê. Vra maar vir reuse in die gholfwêreld soos Tiger Woods en Phil Mickleson, het Rex bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'