OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Daar is tans net geen keer aan Clement Rex nie. Rex, wat homself ook 'Tiger Rex' noem, het Saterdag by die Oudtshoorn-gholfbaan wéér sy spiere gebult toe hy uit 'n totaal van 20 spelers die enkel Stableford-gholftoernooi met 39 punte gewen het. Billy Capel was in die tweede plek met 37 punte gevolg deur Pieter Pretorius wat in die derde plek geëindig het.
Dit was Rex se vyfde oorwinning in alle toernooie vir 2019 wat die houespel (2), vleis (1), en Stableford (2) ingesluit het. Hy is ook tans die verdedigende vleiskampioen nadat hy die titel in 2018 ingepalm het.
Jean Neethling het 'n arend aangeteken, terwyl Terry van Coller op die derde putjie die naaste aan die pen geslaan het.
"Ek is van nature 'n baie kompeterende mens en vir daardie rede sou ek bittergraag myself teen ander gholfliga-spelers van ander dorpe wou meet sou ek die kans kry," het Rex gesê. Jurie Neethling, onderkaptein van die Oudtshoorn-gholfklub, het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat dié klub oor heelwat talentvolle gholfspelers beskik en dat die bestuur beoog om aan die einde van die jaar 'n besluit te neem om sy spelers vir sulke toernooi in te skryf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'