Update
OUDTSHOORN NUUS - Oom Abrie (Yster) de Vries (91), 'n gholfspeler, is op 'n besonderse wyse deur die Oudtshoorn Rotariërklub vereer vir sy prestasies behaal op die Oudtshoorn-gholfbaan.
Tydens Vrydagaand 3 November se Rotariër-gholfdag prysuitdeling, het die Oudtshoorn Rotariërs se president, Suné Rupping, 'n sertifikaat aan De Vries oorhandig om erkenning aan sy prestasies te gee.
Hy was 'n lid van die Oudtshoorn-gholfklub van 1995 tot 2016. Op 5 Desember 2016 het hy sy laaste ronde gholf op die ouderdom van 90 gespeel.
Drie maande voor sy laaste ronde gholf, op 26 September 2016 het hy 90 houe, dieselfde as sy ouderdom gespeel. Die prestasie om dieselfde aantal houe, of minder as sy ouderdom te speel, het hom 33 keer te beurt geval.
In sy gholfloopbaan het sy voorgee deurentyd tussen twee en ses gewissel.
Dit het in 2005 op die ouderdom van 79 begin, toe hy 'n telling van 75 behaal het.
Hy het daarna gereeld die prestasie behaal. "Na die 16de keer het ek besef ek gaan nie al die kere onthou nie en het begin boekhou."
Op 6 Desember 2012 het hy 'n pasaangeër ontvang en daarna nog 17 keer die prestasie herhaal.
De Vries se boekhouding is as volg:
(Datum, hoeveelste keer, ouderdom, aantal houe)
- 26 September 2011: 17de / 85 / 85
- 7 November 2011: 18de / 85 / 82
- 17 November 2011: 19de / 85 / 85
- 2 Januarie 2012: 20ste / 85 /85
- 5 April 2012: 21ste / 85 / 81
- 23 September 2013: 22ste / 87 / 86
- 10 Oktober 2013: 23ste / 87 / 85
- 13 Januarie 2014: 24ste / 87 / 84
- 17 Julie 2014: 25ste / 88 / 85
- 11 Augustus 2014: 26ste / 88 / 83
- 18 Augustus 2014: 27ste / 88 / 85
- 29 September 2014: 28ste / 88 / 88
- 27 Oktober 2014: 29ste / 88 / 88
- 17 November 2014: 30ste / 88 / 88
- 3 Desember 2014: 31ste / 88 / 88
- 15 Augustus 2016: 32ste / 89 / 89
- 26 September 2016: 33ste / 90 / 90
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'