OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Een van Oudtshoorn se jong gholfspelers, Gabriël Malgas (10), is onlangs gekies vir die SWD-gholfspan wat op 9 Oktober in 'n driehoekige provinsiale reeks in Port Elizabeth gaan deelneem.
Malgas is 'n gr. 5-leerder by Laerskool Wesbank en op die oomblik ook die jongste lid van die Oudtshoorn-gholfklub.
Sy pa, William Malgas, het tydens 'n telefoniese gesprek met die Oudtshoorn Courant gesê hy is ontsettend trots op wat sy seun op so 'n jong ouderdom reeds op die gholfbaan vermag het.
" Ek onthou ek het op 5-jarige ouderdom die eerste keer vir hom 'n plastiekgholfstok gegee. Later het ek hom die ware Jakob gegee en ek kon toe reeds sien dat hy 'n slag met dié sportsoort het. Dis veral sy dryfwerk en kortspel wat my beïndruk het. Op die oomblik is sy voorgee 'n 18.
"Op skool was Gabriël ook 'n vinnige atleet en rugbyspeler. Vanjaar het hy egter self besluit dat hy net op gholf wil fokus. As sy pa, voel ek dat indien dit sy begeerte is, ek nie met sy besluit sal inmeng nie. Dis duidelik dat hy 'n passie vir gholf het en met die nodige deursettingsvermoë en toegewydheid, is daar geen rede hoekom hy nie die hoogste vlak kan bereik nie."
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant en aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'