OUDTSHOORN NUUS - Gabriel Malgas (16), ’n Oudtshoorniet en leerder aan Hoërskool Outeniqua, is onlangs in die GholfRSA Federasiespan opgeneem.
Malgas het die week na Zimbabwe vertrek om aan die First Capital Zimbabwe Junior Ope deel te neem wat van 23 tot 26 April by die Borrowdale Brooke Country Club aangebied word.
Dié toernooi is ’n vooraanstaande 54-putjie-houespelkompetisie wat deur die Zimbabwe Junior Golf Association georganiseer word en bring elite internasionale junior gholfspelers (o. 19) van verskeie lande byeen. Die geleentheid dien dikwels as ’n belangrike ontwikkelingsplatform, met wenners wat geleenthede kry om vir groot kampioenskappe, insluitend die Zimbabwe Ope van die Sunshine Tour, te kwalifiseer.
Volgens Malgas speel hy reeds van ’n jong ouderdom af gholf en het hy ’n diep passie vir die sport ontwikkel.
“Ek het ’n groot liefde vir gholf en is baie dankbaar dat God my met talent vir hierdie sport geseën het,” het hy gesê.
Hy het ook sy waardering uitgespreek teenoor sy ondersteuningsnetwerk.
“Ek is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning van my pa, William, my twee broers, ander familie, vriende en die Suid-Afrikaanse Gholfontwikkelingsraad wat dit vir my moontlik gemaak het om aan die toernooi deel te neem. ’n Spesiale dankie aan my ma, Irene, vir haar onvoorwaardelike ondersteuning, sonder haar sou ek nie so ver gekom het nie.”
Malgas se insluiting in die nasionale span word as ’n groot prestasie beskou en plaas hom onder Suid-Afrika se belowendste jong gholftalente.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’