OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 50 spelers het Saterdag 14 Junie die Huis Triomf-gholfdag bygewoon.
Christa Greyling en Jodi Mulder is as wenners aangewys met ’n telling van 51.
Jean Neetling en Marius Viljoen was in die tweede plek met 47 punte en S Arries en W Phillipus in die derde plek met 45 punte. Geld is vir Huis Triomf ingesamel.
Meer oor Huis Triomf
Huis Triomf is in 1991 as ’n NGO geregistreer en hoewel daar voorheen omgesien is na straatkinders, word dit nie meer gedoen nie. Hulle is geregistreer by die departement van sosiale ontwikkeling as ’n kinder- en jeugsentrum en ontvang ’n maandelikse subsidie per kind vanaf die regering. Die toelaag voorsien egter nie aan al die uitgawes nie en is dus afhanklik van skenkings en fondsinsamelingsprojekte.
Kinders in Huis Triomf is afkomstig van die Suid-Kaap, Klein- en Groot-Karoo wat Heidelberg, Albertinia, George, Plettenbergbaai, Oudtshoorn, Ladismith, Dysselsdorp en Beaufort-Wes insluit.
Die huis is verdeel in vleuels om die klein en groter seuns vanaf mekaar te skei. Die doel van Huis Triomf is om altyd kontak tussen ouers en kinders te bewerkstellig, maar dit word gedoen in samewerking met maatskaplike werkers. Gereelde ordelike besoeke word aangemoedig om sodoende familiebande te hernu en te versterk.
Aan die einde van die maand word daar partytjie gehou vir kinders wat daardie maand verjaar het en word ’n verjaarsdagkoek en lekkernye gewoonlik voorsien.
Die kinders word ook gereeld op opvoedkundige uitstappies geneem. Die kinders ontvang sakgeld wat hulle leer om met geld te werk. Drie keer per week word toekennings uitgedeel vir die afhandeling van ontwikkelingsprogramme. Oor naweke word daar gebraai en na rolprente gekyk vir ontspanning.
Kinders wat die ouderdom van 18 bereik moet weer geïntegreer word in die gemeenskap en word hulle by hul ouers of familie teruggeplaas.
Vir meer inligting oor Huis Triomf kan 044 272 3234 of 060 699 5316 gekontak word. Enige donasies is welkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’