OUDTSHOORN SPORTNUUS - Vanessa Henning en Gwen Rothman het verlede Donderdag se damesgholfdag by die Oudtshoorn-gholfklub met 'n telling van 46 punte gewen.
Dié sonnige dag, geborg deur Buffelsdrift-wildsplaas, was gepas op lentedag gehou met altesaam 80 spelers wat om 09:00 afgeslaan het.
Ina Swart en Diana van Staden was in die tweede plek met 46 punte gevolg deur Paula Bester en Marilyn Franklin wat derde was met 43 punte.
Lucia de Jonck (derde), Pam Haig (agste), Marnelle Steyl (12de) en Ina Swart (15de) het die naaste aan die penne geslaan.
Die gholfdag se tema was 'Safari' met Swart en Van Staden wat aangewys is as die besgeklede gholfpaar.
Volgens Steph Nel, vrouekaptein van die Oudtshoorn-gholfklub, word die toernooi reeds die afgelope nege jaar aangebied met spelers regoor die streek wat dit bywoon.
Op 'n vraag waarom die Oudtshoorn-gholfklub besluit het om dié toernooi nie in Augustus te hou nie (wat ook Vrouemaand is) het Nell gesê dat gunstige weerstoestande die hoofrede was om dit op 1 September aan te bied.
Sy het verduidelik dat elke gholfklub oor die streek een maand in 'n jaar kies wanneer hulle graag hul toernooi wil speel wat dan uitstekend deur die vrouespelers ondersteun word.
Nell was dit eens dat die vrolike samesyn en uitmuntende houespel hierdie gholfdag op die kalender baie spesiaal maak.
Die dames is na afloop van die spel om 14:30 met 'n heerlike ete bederf wat afgesluit is met die prysuitdeling.
Ina Swart (links) en Diana van Staden is aangewys as die besgeklede gholfpaar.
Van links is Steph Nel (vroueklubkaptein), Gwen Rothman (wenner), Vanessa Henning (wenner) en Andries van Schalkwyk (Buffelsdrift-wildsplaas).
Die vrou is na afloop van die spel om 14:30 met 'n heerlike ete bederf wat afgesluit is met die prysuitdeling. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'