OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Na ysige weer verlede week het gholfspelers Saterdagmiddag weer in tientalle by die Oudtshoorn-gholfklub opgedaag om in die heerlike sonnige weer 'n potjie gholf te speel.
Altesaam 54 spelers het op dié dag afgeslaan in die individuele Stableford-formaat wat met 42 punte deur 'n besoeker B Wilson gewen is.
Die jongeling, Sergio Arries (37 punte), en klubkaptein, Paul Stroebel (36 punte), was onderskeidelik in die tweede en derde plekke.
In lyn met die regering se onlangse aankondiging dat die land na vlak twee van Covid-19 inperkingsmaatreëls beweeg het GholfRSA ook 'n paar verslappingsreëls aangekondig wat vir alle gholfklubs, werknemers, spelers en joggies in Suid-Afrika geld.
Tans word die voorste ingang by die Oudtshoorn-gholfklub gesluit om te verseker dat almal wat die perseel betree eers gesif word volgens Covid-19-riglyne.
Paul Stroebel.
Golf verslappings van die bestaande inperkingsmaatreëls by die Oudtshoorn-gholfklub is as volg:
- Spelers moet nou aanmeld by 'n ingang wat aangewys word.
- Kroegfasiliteite mag weer gebruik word.
- Geborgde gholfdae mag weer onder streng veiligheidsvoorwaardes plaasvind.
- Spelers wat vierballe bespreek moet 10 minute uitmekaar afslaan.
- Spelers moet aanlyn of telefonies bespreek om te speel.
- Toeskouers by klubkompetisies is steeds verbode.
- Geen fisiese kontak (sluit bladskud in) met ander spelers of joggies nie.
- Slegs die persoon wat aangestel is om 'n sandkuil te hark, mag aan daardie kuil se hark raak.
Spelers
- Elke speler moet sy eie telkaart voltooi of 'n elektroniese rekenaarprogram gebruik.
- Telkaarte mag nie ingehandig word nie. GholfRSA stel voor dat spelers hul kaarte via WhatsApp tydens klubkompetisies stuur.
- Gebruik van die fasiliteite is onderhewig aan die klub/fasiliteit se risiko-maatreëls
- Spelers moet self hul tellings op 'n terminaal insleutel of die HNA-rekenaarprogram gebruik.
- Maskers moet te alle tye gedra word en sosiale afstand van drie meter is steeds van toepassing.
Bepalings vir joggies
- Elkeen moet hul eie sluitkas of 'n afgesonderde area vir hul persoonlike items kry.
- Daar mag nie aan die gholfklubs, balle, teé, handdoek of persoonlike items van die speler gerraak word nie.
- Die joggie en die speler moet gereeld hul hande na elke rondte ontsmet.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'