OUDTSHOORN NUUS - Die 12-jarige Chloé Malgas-Kelpin, kleinkind van Oudtshoorn se bekende gholfspeler, Desmond Malgas, het op Woensdag 19 Julie die jongste gholfspeler geword wat 'n volmaakte gelukhou by die Oudtshoorn-gholfklub behaal het toe sy op die derde putjie die wit balletjie met een hou in die blikkie laat rol het.
Maar dit is nie al nie.
Die belowende jong speler wat die bal net so ver en soms selfs verder as haar oupa slaan, het gedurende die skoolvakansie twee individuele Stableford-kompetisies by die klub gewen.
Op Woensdag 12 Julie het sy met 41 Stableford-punte die eer-ste prys opgeraap en dit op Saterdag 15 Julie opgevolg met 47 Stableford-punte nadat haar voorgee binne 'n week van 31 tot 24 gesny is.
Die president van die Oudtshoorn-gholfklub,
Winston Coerecius, het die jong gholfspeler se vertonings as merkwaardig beskryf.
Volgens hom kan sy dit nog ver bring in die gholfwêreld.
En haar oupa borrel van trotsheid oor sy kleindogter wat so reg in sy voetspore volg.
Chloé is 'n gr. 7-leerder aan die Holy Cross Private School in George, en dogter van Michal en Phillida Kelpin.
Sy het op ouderdom 5 en gr. R begin gholf speel nadat haar ma vir haar 'n stel gholf-stokke gekoop en aangemoedig het om die sportsoort te beoefen.
Sy is lid van die George-gholfklub en ontvang formele afrigting by die South Cape Golf Academy (SCGA) in George.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'