OUDTSHOORN NUUS - Van gholfjoggie tot plaaslike legende, Bennet de Wee het 'n merkwaardige mylpaal bereik toe hy onlangs vir die tiende agtereenvolgende jaar as klubkampioen van Ladismith-gholfklub gekroon is.
Hierdie prestasie maak nie net van hom 'n uitblinker op die plaaslike gholfbaan nie, maar ook 'n inspirasie vir opkomende spelers in die streek.
Wat as 'n eenvoudige gholfjoggiewerkie begin het, het verander in 'n merkwaardige prestasie deur dié toegewyde speler wat vandag ook provinsiaal vir die SAPD gholf speel en as 'n sersant in die SAPD diens doen.
"Ek het as kind sakgeld verdien deur vir gholfspelers te dra. Later het die plaasbestuurder vir wie my ma gewerk het, al sy gholftoerusting aan my geskenk, 'n seëning wat my gholfpad begin het," vertel De Wee nederig.
Hy het eers in 2009 voltyds begin speel, maar sy toewyding is onmiskenbaar: "Ek oefen minstens drie keer 'n week vir drie ure. Ek glo in dissipline en harde werk."
De Wee het al op agt van Suid-Afrika se nege topgholfbane gespeel en onlangs ook aan 'n elite Gholf RSA geleentheid in Mooinooi deelgeneem, waar hy onder 28 spelers amper gekies is om Suid-Afrika in Ierland te verteenwoordig.
"Ek het vir die eerste keer gevoel soos 'n ware professionele speler," sê hy. "Ek het dit nét gemis, maar dit bly 'n hoogtepunt."
Bekend as die "Tiger Woods van Ladismith" en onder boewe as "die Verskriklike" weens sy rol in die stryd teen dwelms, wil De Wee ook sy kennis begin deel. "Ek wil graag ander help om hul spel te verbeter. Gholf gaan ook oor netwerke, oor leer by ander, en oor nederigheid."
Sy raad aan jong gholfspelers? "Werk hard, oefen gereeld en bly nederig, dit is wat my tien titels gebring het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’