OUDTSHOORN SOKKERNUUS - 'n Replika FA-sokker uitdaagtrofee (Football Association Challenge Cup) is eersdaags op die spel vir plaaslike amateursokkerklubs.
Hierdie Engelse Premier sokkerligabeker met sy Britse-sokkergeskiedenis wat oor 'n eeu strek, is onlangs deur Oudtshoorn Spar aan die Eden Rainbow Development Projects (EDRP) geskenk.
Die EDRP is 'n nie-winsgewende organisasie wat 'n verskeidenheid amateursportbyeenkomste in die Oudtshoorn-gemeenskap koördineer waaronder die gewilde OPL-vlakkiekriekettoernooi wat tans aan die gang is.
Gavin Pietersen van die EDRP verduidelik dat sy organisasie dit goed gedink het om hierdie trofee aan die plaaslike sokkerklubs te skenk sodat dit die spel verder kan ontwikkel.
"Ons uiteindelike doel is om dié gesogte beker op die spel te plaas om die jeug aan te moedig om hul energie liewer in sport te stoot as om dit op misdaaddenkwyses te mors.
Hierdie beker weeg om en by 7kg en behoort enige sokkerspeler se droom te wees om te lig. Op die beker is selfs name van hul gunsteling Engelse sokkerklubs gegraveer kompleet met die kenmerkende twee goue leeus plus 'n goue kroon. Ons wens aan die plaaslike sokkerklubs is om hierdie beker te benut vir die doel waarvoor ons dit aan hulle skenk."
Beeno Jackson het Maandag hierdie FA-sokker uitdaagtrofee namens die plaaslike sokkerklubs van die EDRP ontvang en sy waardering teenoor dié skenking uitgespreek.
"Ons is dankbaar vir die mooi gebaar van die EDRP om die beker aan ons te skenk. Planne gaan nou deur myself en die bestuur beraam word om 'n volwaardige amateursokkerliga op die been te bring sodat die room van Oudtshoorn om hierdie pragtige beker kan meeding. Ek het geen twyfel dat meer plaaslike sokkerspanne in Oudtshoorn-omgewing nou gestig gaan word nie. Die rol wat sport in die gemeenskap speel is iets ysliks, en hierdie beker is die kersie op die koek," het Jackson gesê.
Enige spelers wat wil aansluit by die amateursokkerliga kan Beeno Jackson by 084 581 7909 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'