OUDTSHOORN SOKKERNUUS - Toe die sokkerspan van Prins Albert se nuwe vaardigheidskool verlede week die wendoel in 'n vriendskaplike wedstryd teen die Hoërskool Zwartberg skiet, was dit die eerste erkenning wat dié "gemarginaliseerde" groep in die openbaar op die sportveld kry.
Die eindtelling van 2-1, in die guns van die Prince Albert Skills School/Vaardigheidskool (PASS), "het die seuns laat voel hulle is deel van 'n groep wat saam strewe na 'n gemeenskaplike doel," sê Hélène Smit wat minder as 18 maande gelede dié instelling op die been gebring het.
"PASS-leerders leef dikwels op die rand van ons gemeenskap en voel in baie opsigte gemarginaliseer." Die eindtelling is vir hulle 'n simbool van eiewaarde, volgens Smit.
Wat die wedstryd nog meer besonders maak, is dat dit hoofsaaklik georganiseer is deur twee Belgiese onderwysstudente, Kasper Stockman en Roel Noens, wat drie maande lank praktiese ervaring hier opdoen.
"As vrywilligers het Roel en Kasper die afgelope maande baie bygedra tot ons skool. Hul pligte daagliks sluit tegniese vaardighede in, maar hulle het ook betekenisvolle verhoudings met die leerders opgebou. Hulle is belangrike rolmodelle vir die seuns, want die volwassenes wat by die skool betrokke is, is hoofsaaklik vroue."
PASS is gestig nadat Smit en 'n filmspan twee jaar gelede 'n dokumentêr, Eerstewater, op die dorp geskiet het wat gefokus het op twee seuns wat uit die gewone skoolstelsel geval het.
"Die fliek het duidelik uitgewys dat kinders soos dié verlore voel, omdat geen skool hulle meer aanvaar nie. Hul enigste vooruitsigte is 'n lewe van misdaad en AllPay. Daar is baie sulke kinders in Prins Albert, en as ons nie iets hieromtrent doen nie, word hulle 'n las vir die samelewing en leef 'n doellose lewe. Dis kinders met probleme, maar ook met talente. Hulle is gretig om te leer as hulle met respek behandel word. Ek is 'n opgeleide onderwyser en is passievol oor veral sielkundige opvoeding vir getraumatiseerde mense."
Rodine Barends is die skool se fasiliteerder "met 'n diepe gevoel van omgee" vir die skool se veertien seuns van tussen 15 en 20. "Dis jongmense wat dikwels deur die volwassenes in hul lewe verwaarloos word."
Hul kurrikulum bestaan uit lewens-, verhoudings-, elektriese, lees- en skryfvaardighede asook basiese wiskunde. Sommige leerders is deel van die ABET-klasse (basiese onderrig en opleiding vir volwassenes) sodat hulle matriek kan behaal. Zwartberg het een van sy buitegeboue aan PASS beskikbaar gestel.
Smit sê nog sokkerkragmetings word beplan, en bydraes van sweetpakke en warm winterklere is welkom. "Dis 'n skool met baie behoeftes omdat ons self ons inkomste moet genereer. Ons het meer vrywilligers nodig wat die kinders kan onderrig en ons sou graag eendag ons eie skoolbussie wou hê. Ons moet kos en toerusting aankoop, en ons het iemand nodig om ons met sosiale media en fondsinsameling te help."
Smit sê die sokkerwedstryd was 'n geleentheid om PASS-leerders soos gelykes te laat voel. "Dis jongmense wat soms minderwaardig voel omdat hulle uit die hoofstroomonderwys geval het. Sielkundig was dié eerste sokkerwedstryd dus 'n belangrike stap vorentoe.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'