OUDTSHOORN NUUS - Die voetbalklubs, Moonlight en St. Konrad, beide van Dysselsdorp, het Maandag 6 April onderskeidelik in die A- en B-afdeling van die OLFA Paassokkertoernooi geseëvier.
Twintig sokkerspanne van die Groter Oudtshoorn sowel as Prins Albert en Waboomskraal het die afgelope Paasnaweek aan die toernooi deelgeneem. Daar was 12 spanne in die A-afdeling en agt in die B-afdeling.
Die halfeindrondes sowel as die eindrondes is Maandag by die Dysselsdorp-stadion voor 'n volgepakte pawiljoen beslis.
B-afdeling
In die B-afdeling het St. Konrad teen Hotspurs van De Rust te staan gekom en St. Konrad het met 2 - 1 gewen.
In die tweede halfeindronde het Mafela van Waboomskraal met 'n telling van 2 - 1 met Jonkers United van Kammanassie afgereken.
Die eindstryd tussen St. Konrad en Mafela was taai. Die wedstryd het met 0 - 0 geëindig en na ekstra speeltyd was die telling steeds 0 - 0 en is daar oorgegaan na doelskoppe. Mafela het uiteindelik met 3 - 1 gewen.
A-afdeling
In die A-afdeling was die eerste halfeindronde tussen Pirates van Dysselsdorp en Stars van Prins Albert. Pirates het met 4 - 2 gewen.
Moonlight wat volgens ondersteuners duidelik die toernooigunsteling was, het in hulle halfeindronde die span van Supa Strikers met 5 - 0 afgeransel.
Die eindstryd tussen Moonlight en Pirates het om 18:00 begin en met 'n telling van 3 - 1 het Moonlight met die trofee weggestap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’