SPORTNUUS - In 'n aksiebelaaide sokkerwedstryd op die Bridgton-sportterrein op Sondag 13 Augustus is FC Bongolethu gekroon as Oudtshoorn Local Football Association se plaaslike ligakampioene.
Die wedstryd tussen Bongolethu van Oudtshoorn en Spring Roses van Dysselsdorp het teen halftyd op 1 - 0 in die Dysselsdorpers se guns gestaan, maar met die blaas van die eindfluitjie was die telling een elk.
Die wedstryd het toe oorgegaan na doelskoppe, waar die spanne elk beurte kry om van reg voor die doelwagter 'n punt te probeer aanteken. Dit is hier waar die skare hul naels begin byt het.
Teen die einde van hierdie proses het FC Bongolethu sewe teenoor Spring Roses se ses doelskoppe aangeteken en weggestap met die louere.
Bongolethu sal nou op 26 en 27 Augustus meeding in die SAFA Eden Liga-uitspele vir bevordering na die SAFA Eden Streekliga wat in die volgende seisoen in Mosselbaai sal plaasvind.
'n Speler van Spring Roses (wit uniform) mik met sy kop na die bal.
Die skare was met tye met hul hande in hul hare gelaat weens die spannende aksie.
FC Bongolethu-spelers (groen, geel en rooi uniforms) probeer voor hul teenstander van Spring Roses by die bal uitkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’