OUDTSHOORN NUUS - Moonlight-sokkerklub van Dysselsdorp het Sondag 11 Mei ’n gedenkwaardige dag beleef met twee liga-oorwinnings op hul tuisveld, en die verkiesing van hul voorsitter tot ’n streekbestuursliggaam.
Die span het eers met 2 - 1 teen Bitou Young Pirates geseëvier, met Cornelius Bessie en Brenwill Miggels wat elk ’n doel aangeteken het.
Later het hulle die momentum behou en Red Eagles met 3 - 1 geklop.
Bayron Barends, Waitlin Gertze en Vaughan Jacobs het in dié wedstryd die tellings aangevul, wat volgens die klub as een van hul mees gestruktureerde vertonings van die seisoen beskryf is.
Benewens hul prestasie op die veld, het die klub ook op administratiewe vlak ’n groot mylpaal bereik toe hul voorsitter, Keanan du Plessis, tot die bestuur van die Oudtshoorn Local Football Association (OLFA) verkies is.
Du Plessis, bekend vir sy werk met jeugontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid, sê hy sien die verkiesing as ’n oorwinning vir die hele Dysselsdorp. “Ons spelers het hul harte uitgespeel. Ek is trots op wat ons bereik het en sien uit daarna om nou ook op bestuursvlak ’n verskil te maak.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’