DE RUST NUUS - De Rustica is as wenners van die naweek se Paasnaweek Sokkerontwikkelingstoernooi,wat by die Blomnek-sportterrein in De Rust aangebied is, gekroon.
Volgens die organiseerder, Elroy Pietersen, was die toernooi 'n groot sukses en het dit jong spelers die geleentheid gebied om hul talent ten toon te stel, positief besig te bly en gemeenskapsbande te versterk.
Spanne van De Rust, Klaarstroom, Oudtshoorn, Rooirivier, Rietvlei en Oudemuragie het aan die toernooi deelgeneem. Die geleentheid is deur wyk 11-raadslede, geestelike leiers, spanbestuurders en plaaslike jeugdiges georganiseer.
In die halfeindronde het De Rustica met 2 - 1 teen Barcelona geseëvier, terwyl De Rust United vir New Castle oortuigend met 6 - 1 uitgeskakel het.
Die eindstryd tussen De Rustica en De Rust United was 'n aksiebelaaide kragmeting, met die spanne wat rustyd elk een doel aangeteken het. Ná halftyd het De Rustica egter momentum opgebou en uiteindelik met 4 - 2 gewen om die toernooi te beklink.
Samuel Goljats van De Rust United was die toernooi se voorste doelskieter met vyf doele, gevolg deur Keanan van der Ross van Young Stars met drie doele.
Evandré Pieterse van De Rustica is as speler van die toernooi aangewys.
Altesaam 47 doele is gedurende die toernooi aangeteken, terwyl skeidsregters 32 geel kaarte en drie rooi kaarte uitgedeel het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’