OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Western Hope-krieketspan se stryd om oorlewing in die SWD Premierliga het Saterdag 'n groot hupstoot gekry toe hy Pacaltsdorp van George met twee paaltjies geklop het. In die proses het dié span ook 'n waardevolle bonuspunt ingepalm. Pacaltsdorp het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar kon slegs 126 lopies almal uit aanteken.
Western Hope se veteraan speler, James Bruiners, het die beste met die bal gevaar en 3/14 in agt boulbeurte platgetrek.
Hy was goed ondersteun deur Damion Esau wat twee paaltjies vir 28 lopies laat kantel het. In die tuisspan se kolfbeurt het Esau (22) en die openingskolwer, Maurits Pretorius (24), se stewige bydraes in die konteks van die wedstryd verseker dat Western Hope die wa deur die drif kon trek. Esau se veelsydige vertoning met bal en kolf het ook aan hom die speler van die wedstryd-toekenning besorg.
Western Hope se volgende wedstryd is Saterdag teen Thembalethu van George op die Bridgton-sportterrein. Indien die span daarin kan slaag om dié wedstryd te wen sal hy verseker wees van sy plek volgende jaar in die elite SWD Premierliga.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'