OUDTSHOORN KRIEKET NUUS - Die Union Stars vrouekrieketklub se A-span het Saterdag op die Oudtshoorn-sportterrein in 'n SWD-vroueligawedstryd vir Harlequins oortuigend met 108 lopies geklop. Hierdie oorwinning het verseker dat Union Stars vir die vyfde agtereenvolgende jaar dié toernooi wen.
Union Stars het ook vanjaar se seisoen onoorwonne na 12 ligawedstryde afgesluit.
Harlequins het die loot gewen en Union Stars ingestuur om te kolf waarna hulle 184 lopies in 43 boulbeurte aangeteken het. Haroline Rhodes, Union Stars se kaptein, het 'n kapteinsbeurt gespeel en 50 lopies bygedra tot haar span se totale telling. Die openingskolwer, Micaela Andrews, het Rhodes goed bygestaan en 'n warrelwind 42 lopies van slegs 51 balle gemoker.
Harlequins was daarna in hul kolfbeurt vir 'n skamele 78 lopies in die 27ste boulbeurt uitgeboender. Union Stars se draaibalbouler, Jané Winster, het Harlequins se kolwers dronk gedraai, en het met sewe paaltjies vir slegs 22 lopies geëindig.
Winster was ook aangewys as die speler van die wedstryd.
Volgens Rhodes, onder wie se leierskap Union Stars vir die afgelope vyf jaar die septer in dié kompetisie swaai, is die span geseënd met sewe uiters talentvolle spelers wat die kern van die span vorm.
"Week na week bring die hele span konstant hul kant wat my taak as kaptein aansienlik vergemaklik."
Union Stars se seëvierende vrouekrieketspan. Foto's: Wyndham Ewerts
Die voorsitter van Union Stars-krieketklub, Michelle Weyers, het op haar beurt gesê dat sy baie trots is dat die vrouespan na vyf jaar se oorheersing, steeds honger is vir sukses." Hierdie is inderdaad 'n goue era in ons klub se geskiedenis, en ek sien geen rede hoekom ons nie vir die volgende vyf jaar wéér onoorwonne kan bly nie.”
Harlequins-vrouekrieketklub is in 2013 gestig en vanjaar was die eerste keer dat die span in die finaal kon speel. Volgens Marazelle Rabie, kaptein van Harlequins, is die feit dat haar span binne so kort tydperk reeds met die groot honde in dié toernooi kan saam blaf, 'n oorwinning op sy eie.
"Alle eer aan Union Stars, maar ons sal beslis in die nuwe seisoen (Oktober) die bordjies probeer verhang."
Marazelle Rabie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'