OUDTSHOORN KRIEKET NUUS - Union Stars-krieketklub se vroue A-span moes Saterdag op die Oudtshoorn-sportterrein in die SWD-vroueliga eindstryd klippe kou om Harlequins met 43 lopies te klop.
Saterdag se oorwinning was die sesde agtereenvolgende jaar dat Stars hierdie beker lig.
Die verdedigende kampioen het die loot gewen en besluit om eerste te kolf waarna hulle vir 'n middelmatige 170 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte uitgeboul is.
'n Pluimpie vir Harlequins se boulaanval wat in vergelyking met vorige jare se vertonings, met rasse skrede verbeter het.
Haroline Rhodes, kaptein van Union Stars, het die meeste lopies vir haar span aangeteken met 'n vloeiende 31.
Sy is goed bygestaan met stewige bydraes deur Jané Winster (22) en Micaela Andrews (27). Vir die weermagdames was dit veral Julandi Saayman (2/3) en Wendy Eckersley (2/24) wat met die bal beïndruk het.
Oor die algemeen het Harlequin se boulers goed as 'n eenheid gespeel wat hul span in staat gestel het om 'n haalbare totaal te verdedig. Union Stars se boulers, Jenilee Manuel (5/36) en Jané Winster (2/12) het egter in hul boulbeurt met reëlmaat die paaltjies laat kantel wat Harlequins van alle momentum in hul lopiejaagtog gestroop het.
Met die kolf was dit slegs Bianca Mars (28) wat enigsins noemenswaardige lopies vir Harlequins kon aanteken.
Die maroentruie is uiteindelik vir 'n moedige 127 uitgehaal wat aan Union Stars 'n oorwinning van 43 lopies besorg het.
Rhodes het na die wedstryd gesê dat haar span voor dié eindstryd baie weerstand van Harlequins verwag het omdat dié span se boulers van die top paaltjiesnemers in vanjaar se liga is.
"n Speler soos Manual in ons span het regtig vanjaar haar hand opgesteek met konstante topvertonings. Die teenwoordigheid van ou staatmakers soos Andrews en Winster het ook die span kalm gehou toe Harlequins ons gedurende die wedstryd onder geweldige druk geplaas het. Alle eer aan hulle vir 'n taai eindstryd."
Die kaptein van Harlequins, Julandi Saayman het op haar beurt haar tevredenheid oor die vordering van haar span uitgespreek. "Alhoewel ons heelwat uitdagings in die gesig staar, het die meisies vanjaar gewys dat ons klub oor topklas-talent beskik. Die span kan met reg trots wees met dit wat ons tot dusver as 'n eenheid bereik het.
"Die belangrikste is dat die spelers na vandag se wedstryd vas glo dat Union Stars nie onoorwinlik is nie. Met konstante uithalervertonings soos vanjaar, en 'n bietjie geluk van die krieketgode, is daar geen rede waarom ons volgende seisoen nie as die nuwe kampioene bekroon kan word nie."
Die vrouekrieketspan van Union Stars vier hul oorwinning. Foto's: Wyndham Ewerts
Jerononique Murphy van Harlequins in aksie met die bal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'