KRIEKETNUUS - Micaela Andrews is Saterdagoggend, 20 Mei, tydens Union Stars-krieketklub se prysuitdelingsfunksie in die Steppaz Lounge, aangewys as die klub se speler van die seisoen, terwyl die T20-vrouespan wat vanjaar Krieket Suid-Afrika (KSA) se nasionale T20-kampioenskap in Potchefstroom gewen het, die Simon en Daphne Swigelaar-wisseltrofee ontvang het vir die invloedrykste lid van die klub.
Die klubsekretaris, Katrisha Strydom, is aangewys as administrateur van die seisoen. Keenan Arries en Tyrese Karelse is onderskeidelik as die klub se beste kolwer en bouler van die jaar aangewys.
Verskeie oudspelers van die klub het tydens die geleentheid toekennings van dank ontvang.
Die klubvoorsitter, Michelle Weyers, het die vrouespan geloof vir hul prestasie in die nasionale T20-kampioenskap en ook al die ander wenners gelukgewens.
Die klub se erepresident, die 89-jarige Simon Swigelaar, wat op 15-jarige ouderdom by die klub aangesluit het, het 'n spesiale toekenning ontvang vir 75 jaar se lojaliteit en diens aan die klub.
Hy het in sy toespraak gesê as jy iets uit jou hart doen moet jy nie betaling of toekennings daarvoor verwag nie.
"Dit gaan vir my om hulp te verleen en ek is so bly om op 89 nog 'n toekenning te kry."
Hy het ook sy vrou se rol in sy lewe besing en gesê dat hy sonder haar en sy kinders se ondersteuning nie kon bereik wat hy bereik het nie.
Hy is steeds trots om 'n lid van Union Stars te wees en waardeer wat die klub nog vir hom beteken.
Hy het die hoop uitgespreek dat die klub steeds van krag tot krag sal gaan en nog baie trofeë sal wen, en sal help om hom eendag te begrawe.
Ander toekennings het gegaan aan:
T20-kompetisie
- Beste kolwer: Jean Heunis
- Beste bouler: Ayabonga Ngondo
Vroue
- Beste kolwer: Micaela Andrews
- Beste bouler: Haroline Rhodes
- Promosie-afdeling (B span)
- Beste kolwer: Javier Philander
- Beste bouler: Thurston Wessels
Union Stars se vrouespan ontvang die Simon en Dahne Swigelaar-wisseltrofee van die klub se erevoorsitter, Simon Swigelaar.
Michelle Weyers, voorsitter van Union Stars, oorhandig die Speler van die Seisoen-trofee aan Micaela Andrews.
Katrisha Strydom ontvang die Administrateur van die Seisoen-trofee van Simon Swigelaar. Foto's: Garnett Wicomb
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’