Dit was uiteindelik net die ervaring en vasberadenheid wat die verdedigende kampioen van die SWD die een laat deurtrek het.
"Krieket het vandag gewen," het die hoof uitvoerende beampte van die SWD-krieketraad, Albertus Kennedy, tydens die bekeruitdeling gesê.
Volgens hom was dit die eerste keer dat 'n span in 'n eindstryd vir 107 lopies uitgehaal word en steeds die gesogte Petersen-beker wen.
Union Stars het vir die oorwinning ook 'n tjek vir R8 000 in die sak gesteek en sal weer die SWD by vanjaar se nasionale klubkompetisie verteenwoordig.
Harlequins Magte het danksy uitstekende boulwerk deur Phaphama Fojela (3/22), John April (3/29), Eazy Swartz (2/13) en Ronald Dirks (2/23) Union Stars goedkoop uitgehaal. Justin Jordaan (20) en Brenden Louw (19) was Union Stars se enigste kolwers wat bietjie weerstand kon bied.
Harlequins moes slegs teen net meer as 2 lopies per boulbeurt kolf, maar die kolwers het onder druk kwaai geswig en met onverantwoordelike kolfwerk hul paaltjies weggegooi. Union Stars se boulers het met durf geboul en die veldwerk was uit die boonste rakke. Marcello Piedt (3/7), Justin Jordaan (3/8) en Douglas Baartman (2/15) het Harlequins se bekerdroom in die niet laat verdwyn.
"Dit was 'n skitterende dag om die 2012/13 klubkrieket-seisoen mee af te sluit," het Kennedy gesê en die twee spanne geloof. Hy het ook sy dank teenoor die twee skeidsregters, Jean Neethling en John Phillips, die terreinopsigter, Reggy Afrika, en sy span, uitgespreek.
Harlequins se kaptein, Ruphino Plaatjies, het Union Stars gelukgewens en gesê hy glo die span sal Oudtshoorn en die SWD se naam hoog hou by die nasionale klubkampioenskap later vanjaar. Aan sy eie span was die trooswoorde dat hulle nie hul koppe in skaamte hoef te laat sak nie. "Ons sal terugkom," het hy bygevoeg.
'n Trotse Pieter Stuurman, kaptein van Union Stars, het sy spelers geloof vir die vasbeslotenheid om die trofee te behou. "Dit is merkwaardig om in die taai liga 'n vierde agtereenvolgende jaar as kampioen uit die stryd te tree. Dit is met reg 'n rede om baie trots te wees en dit te vier," het Stuurman gesê.
In Saterdag se halfeindstryde het Union
Stars vir Mosselbaai en Harlequins vir George uitgeskakel.
Mosselbaai het op die Van Riebeeck-stadion eerste gekolf en 205 aangeteken met Werner Louw (45), Richard Lessing (36) en Phillip Buys (30) wat die beste gevaar het met die kolf.
Justin Jordaan (3/22), Reagan Booysen (2/23) en Marlin Masimela (2/29) was Union Stars se beste boulers.
Stars het 207/2 aangeteken danksy 'n onoorwonne 3de paaltjie vennootskap tussen Waldo Lategan (91*) en Brenden Louw (76*) vir 'n oorwinning met 8 paaltjies.
Harlequins het in sy halfeindstryd teen George eerste gekolf en 177 aangeteken.
Eazy Swartz het 76 en Phaphama Fojela 28 bygedra terwyl Richard Papenfus (2/22), Grant Simpson (2/34), Danie Liversage (3/27) goed geboul het vir George.
George, wat weens die reën 125 moes aanteken vir 'n oorwinning is egter vir 77 uitgeboul wat aan Harlequins 'n sege met 48 lopies, volgens die Duckworth Lewis stelsel, besorg het.
In 'n spannende eindstryd om die Promosieliga van die SWD het die span van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (George kampus), die NMMU, vir Mayflower van Groot-Brakrivier met 8 lopies volgens die Duckworth Lewis stelsel geklop.
Die studente-span het eerste gekolf en van 27/4, danksy die kolwe van Sean Smith (39) en Dieter Loubser (23) 'n skaflike 155 op die telbord gekry.
Allister Pietersen (3/16) was Mayflower se beste bouler. Hy is goed bygestaan deur Earl van Aswegen (2/19) Brendell Carelse (2/23) en Ashwin Meyer (2/25).
Mayflower se beurt is na 7 boulbeurte, en op 19/2, weens reën verkort en moes 135 in 35 boulbeurte aanteken vir 'n oorwinning.
Die span het egter na die vertrek van Brendell Carelse (45) gesukkel en moes tevrede wees met 129/9.
Kobus Scholtz (2/16) en Bronwill Goeda (2/13) het die NMMU tot oorwinning en 'n tjek vir R4 000 geboul.
Albei spanne het egter reeds gekwalifiseer om volgende jaar in die Premierliga te speel nadat die aantal spanne vir die 2013/14 seisoen tot 9 vermeerder is.
Die seëvierende Union Stars-span wat na hul oorwinning verlede Sondag oor Harlequins Magte die Pietersen-trofee ingepalm het.