OUDTSHOORN NUUS - Die Tornadoes het Sondag in 17de Laan vir die tweede jaar koning gekraai in die 2025 OPL Vlakkiekriekettoernooi toe die span vir Neppon Warriors in 'n opwindende eindstryd met tien lopies geklop het. Tornadoes het die loot gewen en eerste gekolf.
Met slegs 43 lopies na tien boulbeurte op die telbord, was dit Marco Jansen en Johben Barends wat die lopies laat inrol het en kon die span uiteindelik spog met 'n telling van 138/6.
Neppon Warriors se kolfbeurt het ook wankelrig begin met slegs 30 lopies op die telbord na tien boulbeurte.
Die span se kaptein, Willem Goliath, en Derick Olifant het hierna met weerstand vasgeskop, maar kon net nie daarin slaag om die knoop vir hul span deur te haak nie. Die span is vir 128 uitgehaal wat aan Tornadoes 'n oorwinning met 10 lopies besorg het.
Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het die eindstryd bygewoon en die organiseerders geloof vir die aanbieding van die toernooi wat volgens hom 'n groot bydrae lewer om die jeug weg te hou van misdaad.
Hy het Tornadoes en Neppon Warriors gelukgewens met 'n goeie wedstryd en almal aangemoedig om die omgewing skoon te hou.
Die voorsitter van Eden Rainbow Development Projects, aanbieders van die OPL, Gavin Pietersen, het die twee spanne bedank vir die gees waarin die eindstryd gespeel is en Tornadoes gelukgewens met die oorwinning.
Tien spanne het aan die toernooi deelgeneem.
Pietersen het ook sy dank uitgespreek teenoor die Oudtshoorn-munisipaliteit wat die wennerstrofee geborg het en die Bridgton-rugbyklub wat die 2025 OPL geborg het, sowel as die prysgeld vir die wenners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’