OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die afrigter van die SWD-krieketspan, Baakier Abrahams, sê hy wil hierdie naweek tydens die Afrikabeker T20-toernooi, vryheid aan sy spelers gun om die beste moontlike krieket waartoe hulle in staat is te speel.
SWD is saam met vier swaargewigte, Noordelikes, Gauteng, Vrystaat en Zimbabwe in groep B geloot. Die tien wedstryde in Groep B word vandag tot Sondag in Oudtshoorn beslis.
"Hierdie is 'n groot geleentheid vir die spelers. Ons kyk daarna om opwindende krieket te speel, want dis waaroor T20-krieket gaan. Ons wil soveel vryheid moontlik aan die spelers gee om hulle op die veld uit te leef," sê Abrahams wat nou 'n jaar in die tuig is as SWD se hoofbreier.
Volgens hom weet hy nie wat 'n goeie totaal op Rec se kolfblad gaan wees nie. "Ons het darem slim genoeg spelers om die toestande op te som en vas te stel wat 'n mededingende telling behoort te wees."
Abrahams sê hy is dankbaar teenoor die Cobras wat hulle vier spelers, Zubayr Hamza, Aviwe Mgijima, Jason Smith en Tladi Bokako 'n rukkie vroeër aan SWD beskikbaar gestel het. Veral Hamza kan SWD aansienlik versterk. Hy het in sy laaste vier beurte vir Suid-Afrika se naasbestes in Julie en Augustus teen Indië A gespeel waar hy homself goed laat geld het met 93, 0, 63 en 104 nie uit nie.
"Die viertal is almal wedstrydwenners, maar ook goeie persoonlikhede en het goed by ons ingeskakel. Hierdie tipe toernooie gaan daaroor om 'n goeie spankultuur te vestig," sê Abrahams wat in 2016 die Oostelike Provinsie se hulpafrigter was toe dié span die Afrikabeker gewen het. Benewens die OP was Noordelikes (2015) en KwaZulu-Natal Binneland (2017) die ander wenners van die toernooi.
Vanjaar se toernooi is na 20 spanne uitgebrei met vyf Afrika-spanne, Uganda, Namibië, Nigerië, Zimbabwe en Kenia wat betrek is.
Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD-krieket, het gesê: "Ons kry nie baie geleenthede om groot krieket aan te bied nie. Ons hoop om soos in 2016, toe groepwedstryde en die uitspeelwedstryde aan Oudtshoorn toegeken is, dit weer professioneel aan te bied en hoop besoekende spanne sal met goeie herinneringe van Oudtshoorn praat."
Albertus Kennedy en Enrique Pietersen (lid van die raad van direkteure SWD-krieket) by die borge van die T20-reeks in Oudtshoorn: Marcell de Ridder en Gielie Marais (onderskeidelik besigheidsbestuurder en verkoopslonsultant van Smart Office Connexion), Morné Pietersen (stasiebestuurder: EDENfm) en Hannes Visser (redakteur van die Oudtshoorn Courant). Foto: Johan Coetzer
Volgens hom kan 'n kolfstrook met vaart en wip op die Rec verwag word, anders as in die verlede toe dit gekenmerk was as een wat draaiboulers bevoordeel het. Toegang tot die naweek se wedstryde op die Rec en Bridgton sportgronde is gratis.
Die SWD-span en borge vir die naweek se kragmetings is Maandagaand bekendgestel. Die borge is Smart Office Connexion, Oudtshoorn-munisipaliteit, Wes-Kaapse departement van kultuur en sport, EDENfm en die Oudtshoorn Courant.
Die SWD-krieketspan tydens Maandagaand se bekendstelling. Voor, van links is: Jean du Plessis, Daniel Seha (kondisioneringsafrigter), Marcell de Ridder (besigheidsbestuurder Smart Office Connexion), Simon Swigelaar (lewenslange erepresident SWD-krieket), Gielie Marais (verkoopskonsultant Smart Office Connexion), Baakier Abrahams (hoofafrigter) en Zubayr Hamza. Agter: Morné Pietersen (stasiebestuurder: EDENfm), Tladi Bokako, Jean Neethling (departement kultuur en sport), Yamkela Oliphant, Jaco Janse van Rensburg, Aviwe Mgijima, Brendon Louw, Jason Smith, Albertus Kennedy (hoof- uitvoerende beampte SWD-krieket), Obus Pienaar (kaptein), Marcello Piedt, Bradley de Villiers, Gurshwin Rabie (hulpafrigter), Niel Hornbuckle en Tsepo Ndwandwa.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'