OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die plaaslike vlakkiekrieketspanne van die Firestones en die OPL Kings het die afgelope naweek die besoekende spanne van Willowmore behoorlik laat les opsê op die veld langs die Bridgton-kliniek.
In die eerste wedstryd het Firestones 'n stywe 155 lopies aangeteken in sy toegelate 20 boulbeurte.
Damion Esau se flitsende kolf het Willowmore se kolwers na elke hoek van die veld gepeper en 'n indrukwekkende 65 lopies van 30 balle aangeteken.
Daarna is Willowmore se span vir 'n skamele 40 lopies uitgeboender. In die tweede wedstryd het die OPL Kings eerste gekolf en 102 lopies op die telbord geplaas. Willowmore is toe in sy kolfbeurt aan flarde geskeur vir slegs 30 lopies met pynlike akkurate boulwerk deur André Piedt en Damion Esau wat drie paaltjies vir slegs ses lopies geneem het.
In die laaste wedstryd wat oor 10 boulbeurte elk beslis is, het Willowmore 'n uitdagende 80 lopies geslaan wat beteken het dat Firestones teen 8 lopies per boulbeurt moes kolf vir 'n oorwinning. Firestones se openingskolwers het die teiken afgeblits in die agste boulbeurt met Esau (53*) wat weereens beïndruk het met sy tweede 50-tal vir die dag en Faizel Lewis met (35*).
Nico Rautenbach van Willowmore het na die wedstryd gesê dat sy spanne onkant gevang is deur die toestand van die veld waarop hulle gespeel het.
"Ons is nie gewoond aan balle wat onvoorspelbaar opstaan of laag bly nie. Alle eer aan die Firestones en OPL Kings-span vir hul gasvryheid, maar ons belowe om definitief die bordjies te verhang wanneer hulle op ons veld kom speel waar die speeloppervlak gelyk is."
Damion Esau van Oudtshoorn het in reaksie op Rautenbach se opsomming van die dag se spel gesê dat vlakkiekrieket uniek is omdat dit die spelers blootstel aan verskillende toestande.
"Dis juis hoe 'n speler se vaardighede tot die uiterste beproef word wanneer hy in toestande speel waaraan hy nie gewoond is nie. Ons sien beslis uit na die wegwedstryde in Willowmore, maar ek kan die publiek belowe dit gaan weer eenrigtingverkeer wees."
Nico Rautenbach (heel regs) van Willowmore, word deur spelers van die OPL Kings by die kolfkampie verwelkom. Foto's: Wyndham Ewerts
Faizel Lewis van die Firestones smeer die bal na die bykant.
Damion Esau van die Firestones was in 'n vernietigende bui.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'