KRIEKETNUUS - Die Oudtshoorniet en voormalige stoomtreinbouler, Gurshwin Rabie (40), het verlede week geskiedenis gemaak toe hy die eerste plaaslike afrigter vanuit SWD-geledere geword het wat as hoofafrigter van die Garden Route Badgers sedert SWD se bestaan aangestel is.
Sy aanstelling volg nadat die vorige afrigter, Piet Botha, as nasionale boulafrigter vir die Proteaspan opgeroep is. Rabie doen reeds vir die afgelope twee jaar diens as hulpafrigter van die Badgers en sy bevordering na hoofafrigter sal strek oor twee jaar.
Ek voel baie geëerd om as die hoofafrigter van die Garden Route Badgers aangewys te word, het Rabie by navraag gesê.
"Dit was altyd een van my drome om die hoofafrigter van die Badgers te word en ek is baie opgewonde oor die geleentheid by die SWD waar ek my krieket geleer het."
Wat sy afrigtingsfilosofie betref sê Rabie dat hy baie spelergeoriënteerd sal wees.
"Vir my gaan dit oor die welstand van die speler, 'n gelukkige speler bring vir jou 'n gelukkige kleedkamer. Ek sien myself in die rol om nie net spelers tot die beste van hul vermoëns te ontwikkel nie, maar ook om beter mans vir die samelewing te ontwikkel. So my benadering gaan definitief holisties van aard wees," het Rabie gesê.
Op 'n vraag hoe die deursnee ondersteuner na die spansamestelling daarna kan uitsien, het hy gesê dat dit 'n kombinasie van twee faktore sal wees.
"'n Gesonde balans tussen home bred-spelers en spelers wat ons van ander unies aanskaf is, volgens my, 'n roete wat groot sukses vir ons kan bring. 'n Mens moet ook in ag neem dat spelers wat van ander unies kom broodnodige ervaring en kennis het wat van onskatbare vir ons jonger plaaslike spelers kan wees. Dit kan ook tot voordeel vir ons op en van die veld af wees, en die effek daarvan kan vir baie jare in ons sisteem wees. Wat onmiddellike doelwitte betref, beoog ek om die Badgers na Divisie 1 te bevorder, ons speel tans in Divisie 2. Hier sal ons skouers skuur met groot franchises soos Cobras, Knights en Warriors. Op die einde van die dag gaan dit vir my daaroor om 'n attractive aggressive brand krieket te speel wat weer groot skare na die Six Gunn Grill-stadion sal trek."
Rabie is reeds vir die afgelope nege jaar getroud met Allison en hulle het twee kinders.
Gurshwin Rabie
Loopbaan
Rabie se eersterangse speelloopbaan het van 2008 tot 2017 gestrek. Hy het in 92 eersteklas- en 48 Lys A-wedstryde vir die Westelike Provinsie, die Cape Cobras, SWD en die Warriors uitgedraf.
Hy het ook die SA Universiteite tussen 2006 en 2009 verteenwoordig. In sy roemryke loopbaan het hy 331 paaltjies op eersteklasvlak laat kantel met 'n beste boulontleding van 8/60 (teen Noordwes in Oudtshoorn in die 2011/12-seisoen) en 48 Lys A-paaltjies.
In 'n wedstryd (teen KwaZulu-Natal Binneland in 2013/14) het hy syfers van 12/76 opgelewer en hou steeds die rekord vir die meeste eersterangse paaltjies vir die Badgers (261 paaltjies in 64 wedstryde). Vir die 2011/12-seisoen het hy die toekenning as driedagspeler van die seisoen by die jaarlikse CSA-toekenningsfunksie ontvang.
Ná sy speelloopbaan het hy hom as afrigter begin toespits. Hy is tans 'n Krieket Suid-Afrika vlak 3- gekwalifiseerde afrigter en het in 2009 'n BCom-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf.
Rabie is eers as die Akademie-afrigter by SWD (2016-2018) aangestel en het 'n soortgelyke rol by die Westelike Provinsie tussen 2018 tot 2021 vervul. Gedurende daardie tydperk rig hy ook die seëvierende Cobras Cubs en Colts-spanne af wat die onderskeie Krieket Suid-Afrika se nasionale toernooie gewen het. In September 2021 het hy as hulpafrigter by die Badgers aangesluit.
Só sê Albertus Kennedy
SWD-krieket se uitvoerende hoof, Albertus Kennedy, het in 'n verklaring Rabie gelukgewens en gesê dat hy die beste kandidaat vir die pos was en dat hierdie 'n wonderlike geleentheid vir hom sal wees om sy vaardighede en kwaliteite as 'n afrigter ten toon te stel teen die agtergrond van SWD se verwagtinge.
"Bevordering na Divisie 1 aan die einde van die komende 2023/24-seisoen is hoog op ons prioriteite en ons is vol vertroue dat Gurshwin met sy ondersteuningspersoneel en die gekontrakteerde span die gewenste resultate sal lewer. Sy pos as hulpafrigter by die Badgers is nou vakant en sal binnekort gevul word," het Kennedy gesê.
Rabie op die oefenveld as afrigter. Foto's: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’